Nuus 09:00
BULLETIN 5 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die begroting is op die agenda van die ANC se nasionale werkkomitee se vergadering vandag
# Die VF Plus sê Orania en Kleinfontein hou geen bedreiging vir Suid-Afrika in nie
# En, Donald Trump brei sy handelsoorlog na die rolprentbedryf uit
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die regering van nasionale eenheid en die begroting sal op die agenda wees wanneer die nasionale ampsdraers en die nasionale werkkomitee vandag vergader. Dit terwyl die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voorberei om die nasionale begroting vir die derde keer in die Parlement ter tafel te lê op 21 Mei . Mbalula het die media ingelig na ‘n tussenverkiesingsveldtog Sondag in Freedom Park, Soweto, en gesê dat hulle samesprekings oor die begroting sal voortduur totdat dit ter tafel gelê word:
# Die Vryheidsfront Plus sê Afrikaner-kultuurgemeenskappe, soos Orania en Kleinfontein, hou geen bedreiging vir Suid-Afrika in nie; inteendeel, hulle dra by tot die land se groei. Kleinfontein, oos van Pretoria, het onlangs toenemende openbare aandag gekry, met die EFF én MK-party wat verontwaardiging uitgespreek het oor sy voortgesette beleid van segregasie. Jaco Mulder van die VF-Plus sê Suid-Afrika is ‘n diverse land met ‘n oorvloed kulturele gemeenskappe, wat toegelaat moet word om vreedsaam saam te bestaan:
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, sê haar departement ondersoek, deur die Padverkeersbestuurskorporasie, die oorsaak van ‘n ongeluk die naweek in die Oos-Kaap wat die lewens van 15 mense geëis en vyf ander beseer het . Die botsing reg van voor tussen ‘n volgelaaide minibustaxi en ‘n bakkie het op die R-63 tussen Adelaide en Maqoma, Fort Beaufort, plaasgevind. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê ‘n voorlopige verslag word binnekort verwag:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het sy Handelsdepartement opdrag gegee om ‘n tarief van 100-persent op rolprente te hef wat buite die land vervaardig en ingevoer word. Volgens FilmLA het rolprent- en televisievervaardiging in Los Angeles met bykans 40-persent die afgelope tien jaar gedaal. Trump het op Truth Social gesê die Amerikaanse rolprentbedryf is besig om vinnig te sterf weens die aansporing wat ander lande bied om Amerikaanse rolprentvervaardigers te lok.
# Tennis: Die Noorweër Casper Ruud het die Madrid Ope gewen – sy eerste ATP Meesters-duisend-titel. Die 26-jarige Ruud het ‘n opdraande stryd gehad om die Brit Jack Draper te klop en daarmee sy grootste titel ooit in te palm. ‘n Oorwinning vir Draper sou vir hom sy tweede Meesters-duisend titel besorg het ná die Indian Wells in Maart. Ruud skuif nou na die sewende plek op die rangleer. Hy sê dit was ‘n ongelooflike gevoel om een van sy doelwitte te bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-en-55-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-254-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 58-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….