Nuus 09:00
BULLETIN 4 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula loof die herbegrawe helde teen apartheid vir opofferings in die stryd vir SA se demokrasie
# ‘n Bekende vrou van Oos-Londen is in Frankryk doodgesteek
# En Atletiek: Akani Simbine sit sy wenvertoning in China voort
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die uMkhonto we Sizwe-vegters Benjamin Moloise en Abraham Mngomezulu geloof as dapper aktiviste teen apartheid wat vir demokrasie en gelykheid geveg het. Hy het dit gesê by die teraardebestelling van hul oorskot – dekades ná hul teregstelling deur die apartheidsregime – wat afsluiting vir hul families gebied het. Hy het by die plegtigheid gesê hul opofferings simboliseer die stryd om vryheid:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het president Cyril Ramaphosa se besluit ondersteun, om ’n Regterlike Ondersoekkommissie in te stel na beweerde vertragings in die vervolging van misdade uit die apartheidsera. Die kommissie beoog om die ondersoeke van vorige administrasies, wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys is, maar belemmer was. Sy sê slagoffers se families soek geregtigheid en vergoeding vir onopgeloste sake wat dekades gelede gebeur het:
# Die Nasionale Persklub en die African Media and Communicators Forum het ‘n beroep gedoen op die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, om in te gryp in die saak van die vermiste joernalis Sibusiso Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli. Dit is 74 dae sedert die paartjie laas op 18 Februarie gesien is. Daar is tot dusver geen leidrade of arrestasies nie en die organisasies die beloning vir inligting verdubbel na 100-duisend-rand.
# Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad-ondersoeke stel ondersoek in na die moord op ‘n 31-jarige vrouepolisiebeampte van Bishop Lavis. Haar liggaam is gisteroggend met veelvuldige skietwonde in haar voertuig in Benniestraat, Langa, naby ‘n laerskool gevind. Sy het na bewering die vorige aand haar huis in Kraaifontein verlaat om ‘n kerkdiens in KwaLanga by te woon. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Mense met inligting kan die polisie kontak.
# Die liggaam van ‘n bekende gastehuiseienaar van Oos-Londen, die 65-jarige Karen Carter, is Dinsdag deur ‘n vriendin met steekwonde buite haar huis in Trémolat in die Dordogne-streek van Frankryk gevind. Carter se man, Alan, wat in Suid-Afrika is, het namens die familie hul skok oor haar moord uitgespreek en gesê Karen was ‘n lieflike mens. Hulle het vier kinders. ‘n 69-jarige vrou van Trémolat is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord, maar aanklaers het die naweek gesê sy is intssen weer vrygelaat.
# En, Atletiek: Akani Simbine lyk na die atleet wat hierdie seisoen geklop moet word nadat hy gister op die tweede Diamantliga-byeenkoms in Keqiao, China, die 100 meter-naelloop gewen het. Hy het die Olimpiese silwermedaljewenner van Jamaika, Kishane Thompson, in ‘n opwindende eindpoging met nul-komma-nul-een sekondes geklop in nege-komma-98 sekondes. Letsile Tebogo van Botswana was derde in 10-komma-nul-drie sekondes. Thompson was vinniger uit die blokke, maar Simbine het hom teen die einde verbygesteek. Simbine het verlede week die eerste Diamantliga-byeenkoms, ook in China, in ‘n tyd van 9.99 sekondes gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….