Nuus 09:00
BULLETIN 30 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die AA sê samewerking het padsterftes tydens Paasfees voorkom
# Die uitvoerende hoof van Eskom sê die munisipale skuldverligtingsplan het misluk
# En Donald Trump sê hy gebruik sy presidentskap om ingrypende veranderings aan te bring
# Die Outomobiel Assosiasie verwelkom die aansienlike vermindering in voertuigbotsings en sterftes wat oor die Paasnaweek aangemeld is. Ongelukke het van 209 verlede jaar tot 141 vanjaar afgeneem wat ‘n algehele vermindering van 32,5-persent is. Sterftes het van 307 verlede jaar tot 167 vanjaar gedaal – ‘n afname van 45,6-persent. Alle provinsies het verminderings in sterftes aangemeld, behalwe Mpumalanga. Die vereniging se woordvoerder, Eleanor Mavimbela, sê dié positiewe resultate benadruk die doeltreffendheid van vroeë beplanning en deurlopende wetstoepassing:
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê hulle aanvaar nou Tesourie se munisipale skuldverligtingsplan het misluk. Volgens die plan sou munisipaliteite se skuld oor drie jaar afgeskryf word indien hulle streng voorwaardes nakom. Van die munisipaliteite wat vir deelname goedgekeur is, het 14 die eerste afskrywing van altesaam 3,5-miljard-rand gehaal, terwyl 60 briewe van nienakoming ontvang het. Munisipaliteite se Eskom-skuld het tot byna 100-miljard-rand gestyg. Marokane sê Tesourie moet toelaat dat Eskom die munisipaliteite wat nie betaal nie, se elektrisiteitsdienste oorneem.
# Die DA in die Wes-Kaap het sy oproep herhaal vir ‘n omvattende ondersoek na die breër patroon van die moontlik doelbewuste stigting van veldbrande in die provinsie. Tussen November 2024 en Februarie vanjaar is elf-duisend-149 veldbrande in die provinsie aangemeld waarvan 68 steeds as moontlike brandstigting ondersoek word. Die afgelope paar dae veg brandbestryders teen ʼn brand in Tokai. Dave Bryant van die DA sê gemeenskappe verdien duidelikheid, aanspreeklikheid en optrede om verwoesting in die toekoms te voorkom:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê wat die wêreld die afgelope 14 weke gesien het, is ‘n rewolusie van gesonde verstand. Hy het Woensdag sy 100ste dag in die amp gevier met ‘n veldtogstyl-saamtrek in Michigan. Volgens Gallup is Trump die enigste president na die Tweede Wêreldoorlog met minder as die helfte van die publiek se steun na 100 dae in die amp, met 44-persent steun. Trump sê hy begin nóú eers, aangesien hy sy presidentskap gebruik om diepgaande verandering te bewerkstellig:
# Sokker: Paris Saint-Germain het oorwinning van 1-0 teen Arsenal behaal in die eerste ronde van die Kampioeneliga-halfeindstryd by die Emirates in Londen. Ousmane Dembele se doel in die eerste helfte het die verskil tussen die twee spanne gemaak. PSG het vyf van hul laaste sewe weg-uitklopwedstryde in die kompetisie gewen. Arsenal reis na Frankryk vir hulle tweede wedstryd teen PSG volgende Woensdag by die Parc des Princes. Vandag pak die vyfmalige kampioene, Barcelona, Inter Milan in hulle eerste halfeinstryd-ontmoeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 21-rand-8-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….