Nuus 09:00
BULLETIN 29 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber sê digitale grensbestuur lewer betekenisvolle resultate
# Popcru wil hê elke beskikbare hulpbron moet gebruik word om drie vermiste konstabels op te spoor
# En Kanada se Liberal Party sal na verwagting die verkiesing wen
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die Grensbestuursowerheid se Paasveldtog is aangedryf deur die digitale hervormingsproses wat nou in volle swang is. Die owerheid het vanjaar ses-duisend-253 pogings om die land onwettig binne te kom, gefnuik teenoor slegs drie-duisend-841 in 2024. Dit is ‘n toename van 63-persent. Schreiber sê die doeltreffendheid van grensbeheer word toenemend verbeter:
Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê intussen die bekendstelling van waarnemingshommeltuie en liggaamskameras was ‘n keerpunt vir grensbestuurswerk by grensposte. Hy sê ongeveer 112 persone is gedurende die Paastydperk om verskeie redes by grensposte in hegtenis geneem en aan lede van die SAPD oorhandig vir verdere hantering. Masiapato sê die meeste van hierdie mense het as fasiliteerders vir onwettige aktiwiteite rondom grensposte opgetree:
# Kanada se Liberale Party, onder leiding van eerste minister Mark Carney, gaan volgens aanduidings die land se federale verkiesing wen. Die meerderheid stemme in talle belangrike kiesdistrikte is egter te klein om te bepaal of die party ʼn meerderheidsregering gaan hê of weer ʼn minderheid soos na die afgelope drie verkiesings. Carney, ʼn voormalige bankier, het in Maart eerste minister geword nadat Justin Trudeau bedank het. ʼn Rekord 7,3-miljoen mense het reeds voor stemdag hul kruisies getrek wat 25-persent meer is as in 2021 se federale verkiesing.
# Padwedlope: Die 45ste Londen-marathon wat Sondag gehou is, het ‘n nuwe wêreldrekord opgelewer vir die meeste deelnemers wat die eindstreep oorgesteek het, met ‘n totaal van 56-duisend-640. Die vorige rekord was 55-duisend-646 by die New York-marathon. Die geleentheid het ook rekordskares gelok, met 800-duisend mense wat die atlete aangemoedig het – sowat 60-duisend meer as gewoonlik. Die Keniaan, Sebastian Sawe het die manswedloop gewen terwyl die Ethiopiër Tigist Assefa die vrouewedloop, met ‘n nuwe wêreldrekord van twee uur, 15-minute en 50-sekondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 21-rand-11-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-814-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….