Nuus 09:00
BULLETIN 28 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die hofuitspraak oor die opskorting van BTW is ‘n sege vir alle Suid-Afrikaners
# Donald Trump gooi die wêreldorde omver in sy eerste 100 dae
# Sokker: Liverpool verslaan Tottenham om die Premierliga-titel te verower
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê die Wes-Kaapse Hooggeregshof-uitspraak dat ‘n BTW-verhoging amptelik opgeskort moet word, is ‘n sege vir alle Suid-Afrikaners. Sy sê die besluit verseker dat veranderinge aan die BTW-koers behoorlik deur die parlement goedgekeur moet word voordat dit in werking tree. Die DA-woordvoerder, Willie Aucamp, sê die party verwelkom die uitspraak en sal sy stryd voortsit vir, en met alle Suid-Afrikaners vir ‘n ekonomie wat groei en werk skep:
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde sê vryheid sonder ordentlike werk, ekonomiese geregtigheid, waardigheid, veiligheid, behuising, en toegang tot gehalte openbare dienste is nie werklike vryheid nie. SAFTU se woordvoerder, Newton Masuku, sê Suid-Afrika staan op die rand van ‘n mislukking. Hy sê die werklike omstandighede van die werkersklas het tot onverdraagsame vlakke vererger. Masuku sê alhoewel die politieke reg om te stem in 1994 behaal is, is ekonomiese bevryding brutaal uitgestel:
# Die veldbrand in die Silwermyn-gedeelte van die Tafelberg Nasionale Park het Sondag beduidend vererger toe die wind skielik van rigting verander het en sterker begin woed het. Inwoners van ‘n aftreeoord in Noordhoek is gisteraand as ‘n voorsorgmaatreël uit hulle wonings ontruim. Die brand het Vrydag hoër op in Tokai uitgebreek en was tot Sondagoggend laat grootliks in bedwang. Dit het toe na Tokai, Zwaanswyk, Noordhoek en Clovelly versprei. Ou Kaapse Weg was Sondag in albei rigtings tussen Steenberg en Sun Valley gesluit weens swak sigbaarheid as gevolg van digte rook.
# President Donald Trump het in die eerste 100 dae sedert sy terugkeer as president die reël-gegronde wêreldorde omvergegooi wat Amerika ná die Tweede Wêreldoorlog help opbou het. ‘n Gewese onderhandelaar in die Midde-Ooste vir die Demokrate en die Republikeine, Dennis Ross, het aan Reuters gesê die wêreld ervaar ‘n groot ontwrigting in wêreldsake. Ross sê niemand is seker hoe om die gebeure te interpreteer en volgende te verwag nie. Trump het ‘n wêreldwye tariefoorlog begin, Amerika se hulp aan die buiteland besnoei, NAVO-bondgenote geminag en Rusland se standpunt oor sy inval in Oekraïne aanvaar.
Sokker: Liverpool het Tottenham Sondag met 5-1 verslaan om die Premierliga-titel op Anfield te beklink. Hulle het daarmee die rekord geëwenaar van ‘n 20ste Engelse kroon in top kompetisies. Arne Slot se span is nou saam met Manchester United die suksesvolste klubs in die geskiedenis van Engelse sokker. Dit is net hul tweede titel in die Premierliga en die eerste wat hulle sedert 1990 voor hul tuisskare wen. Die sege plaas Liverpool op 82 punte -en met slegs vier wedstryde oor reeds 15 voor as hul naaste uitdagers, Arsenal.
En in nog sokkernuus, kaartjies vir die eindstryd van die 2026 Wêreldbeker word intussen op ‘n derdeparty-kaartjiebeurs vir tot een-komma-een-miljoen rand verkoop, ondanks die feit dat FIFA nog geen kaartjies te koop aanbied nie. Sky News het bevind die webwerf Vivid Seats het reeds lyste vir Wêreldbeker-wedstryde in Amerika en Kanada. Die wêreldbeheerliggaam vir sokker het nou ‘n waarskuwing aan ondersteuners gerig om lig te loop vir nie-amptelike webwerwe wat reeds kaartjies aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….