Nuus 09:00
BULLETIN 25 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC wil seker maak van etiese leierskap
# Die welkome BTW-verrassing los nie die fiskale krisis op nie
# En die Franse premier eis optrede teen mesmisdade in skole
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party is besig om streng interne meganismes in te stel om etiese leierskap, doeltreffende regering en deursigtige besluitneming te verseker. Hy het die slotrede gelewer by die party se Noord-Kaapse provinsiale konferensie waar Zamani Saul onbestrede vir ‘n derde termyn as provinsiale voorsitter verkies is. Mbalula sê ANC-lede het ʼn verantwoordelikheid om gedissiplineerd te wees:
# ‘n Ekonoom aan die Stellenbosse Bestuurskool, André Roux, sê om BTW onveranderd te hou is goeie nuus, maar hy waarsku die regering moet nog ‘n groot begrotingsgaping regstel. Hy voeg by met die laer ekonomiese groei wat verwag word, sal belastinginkomste selfs verder krimp. Roux glo die beste oplossing is om verkwistende staatsbesteding te besnoei en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te help met sy vermoë om onbetaalde belasting in te vorder:
# Die DA in Gauteng eis beslissende optrede teen die skoolhoof van die Madisong High School in Hammanskraal, wat daarvan beskuldig word dat hy lyfstraf toegepas het. Die provinsiale Onderwysdepartement het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat leerlinge klagtes teen die skoolhoof ingedien het. Een leerder het seer hand aangemeld wat hy na bewering opgedoen het as straf nadat hy ‘n vakansie-opvangprogram misgeloop het. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê in plaas van ‘n skorsing, het die departement die skoolhoof bloot na die distrikskantoor verskuif:
# Die Franse eerste minister, Francois Bayrou dring aan op ‘n verskerping van deursoeking vir messe in skole. Dit volg na ‘n tienermeisie dood is en drie studente beseer is in ‘n mesaanval by die Notre-Dame-de-Toutre-Aide-skool in Nantes. Die aanvaller, ‘n 15-jarige seun, is glo op die toneel gearresteer na hy deur ‘n onderwyser oorrompel is. Bayrou sê ‘n kommissie sal aangestel word om ondersoek in te stel na die hantering van tiener mes-misdade in terme van wapenverkope en die dra van messe.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru het die Rajasthan Royals met 11 lopies verslaan om agtereenvolgende oorwinnings in die Indiese Premierliga te behaal. Virat Kohli behaal 70 van 42 balle terwyl Devdutt Padikkal 50 van 27 aflewerings bydra tot RCB se telling van 205 vir vyf. In antwoord daarop trek Josh Hazlewood vier paaltjies plat en beperk Rajasthan Royals in hul vyfde agtereenvolgende nederlaag tot 194 vir nege. Die sege plaas RCB wat een wedstryd meer gespeel het, op 12 punte saam met die voorlopers, Gujarat Titans en Delhi Capitals.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 21-rand-34-sent teen die euro en 25-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-261-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….