Nuus 09:00
BULLETIN 2 Januarie 2024 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, NSFAS, is vasbeslote om alle uitstaande 2023-betalings teen 15 Januarie af te handel
# Minstens 20 mense is reeds dood in die kragtige aardbewing in Japan
# En tennis, Naomi Osaka wen die eerste wedstryd ná haar terugkeer by die Brisbane Internasionale toernooi
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, NSFAS, is vasbeslote om alle uitstaande 2023-betalings teen die 15de Januarie in samewerking met die relevante instellings af te handel. Dit sal verseker die 2023-beurstoelaes raak nie die terugkerende studente in die 2024-akademise jaar nie. Die woordvoerder van NSFAS, Ishmael Mnisi, sê die skema het sowat 234-duisend-124 studente se toelaes sedert 5 Desember verlede jaar uitbetaal as deel van die finale uitbetalingsrekonsiliasie vir die 2023 akademiese jaar:
# Drie mense waaronder ‘n sewejarige seun is op Oujaarsaand naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal dood toe hulle motor in die Msunduzi-rivier meegesleur is. Dit het gevolg nadat swaar reën ʼn brug beskadig het. Die provinsiale LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Bongiwe Sithole-Moloi, sê dis hartseer dat die provinsie die jaar op so ʼn somber noot begin met gure weer wat nog lewens eis:
# Die polisie in Gauteng het ʼn soektog na verdagtes van stapel gestuur nadat vier mense in Soshanguve, Tshwane, doodgeskiet is. Die polisie is vroeg gister uitgeroep na ʼn skietvoorval in Soshanguve waar vier mense met skietwonde aangetref is. ʼn Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê een van die slagoffers was ʼn 14-jarige tienermeisie:
# Minstens 20 mense is dood toe ‘n aardbewing van 7,5 die weskus van Japan gister getref het. Paaie en geboue is beskadig, vervoer- en kommunikasiedienste is ontwrig, en sowat 45-duisend-700 huishoudings is sonder krag. Die aardbewing het 20 mense in Ishikawa dood gelaat, en dosyne is in vier ander distrikte beseer. Naskokke is ook aangeteken, en Japan se weeragentskap waarsku dit kan nog ‘n paar dae voortduur. Die weeragentskap het alle tsunami-waarskuwings ná die aardbewing opgehef, nadat tsunami-golwe van tot 1,2 meter gister ’n aantal gebiede langs die land se weskus getref het.
# Tennis: Die nuwe ma, Naomi Osaka, het die eerste wedstryd ná haar terugkeer gewen deur Tamara Korpatsch in skoon stelle te klop by die Brisbane Internasionale Toernooi. Die Japanse viermalige Grand Slam-kampioen, wat in haar eerste toernooi in 15 maande gespeel het, het die ongekeurde Duitser 6-3 en 7-6 verslaan. Sy sal volgende teen Karolina Pliskova te staan kom. Osaka het agterna gesê sy is baie trots op haarself en dink sy het ‘n goeie standaard gehandhaaf. Die 26-jarige Osaka het in Julie 2023 geboorte geskenk aan haar dogter Shai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-244-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-71-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….