Nuus 09:00
BULLETIN 21 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan voort met regstappe teen die beoogde BTW-verhoging
# ‘n Nuwe Boeing word uit China teruggestuur weens die handelsoorlog met Amerika
# En krieket: ‘n Veertienjarige slaan ‘n ses van sy heel eerste hou in die Indiese Premierliga
# Die DA gaan voort met sy regstappe teen die verhoging van 0,5-persentasiepunte in BTW wat beplan word om 1 Mei in werking te tree. Die saak word môre in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. Die DA se woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die party wil ’n dringende interdik hê om die verhoging te stop, en voer aan dat die goedkeuringsproses in die Parlement gebrekkig was. Sy sê ondanks dié week se beplande vergaderings met die ANC is die verhoging onregverdig:
Aartsbiskop Thabo Makgoba het die land se politieke partye intussen gewaarsku dat hul binnegevegte ‘n groot probleem vir demokrasie inhou. Die hoof van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika het in sy Paasboodskap gesê partye moet ophou speletjies speel, anders gaan Suid-Afrika se demokratiese regering op ‘n krisis afstuur. Makgoba sê die partye wat in die Parlement verteenwoordig word, moet gerespekteer word. Hy het ook verwys na krisisse soos geslagsgeweld en abnormale politieke funksionering.
# Universities South Africa vra streng vuurwapen-vrye beleid op alle kampusse nadat ’n student doodgeskiet is tydens ’n betoging by die Walter Sisulu Universiteit in die Oos-Kaap. Voorsitter Francis Petersen het aan Newzroom Afrika gesê dat veiligheid noodsaaklik is vir onderwys. Hy het die behoefte beklemtoon aan duidelike regulasies, sterk sekerheid, gevolgbestuur en aanspreeklikheidsmaatreëls. Petersen vra dat geweld verhoed word om te verseker dat studente en personeel veilig voel in opvoedkundige omgewings:
# Die terugsending van ‘n Boeing-vliegtuig vanuit China na Amerika word toegeskryf aan die handelsoorlog tussen die twee ekonomiese reuse. Die 737 MAX was bedoel vir aflewering aan die Chinese lugredery Xiamen, maar is teruggestuur na Seattle waar dit gister ná ‘n retoervlug van agtduisend-kilometer geland het. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging van ‘n tarief van 145-persent op Chinese invoere is gevolg deur Beijing se heffing van 125-persent op Amerikaanse goedere. Dit beteken dat ‘n Chinese lugdiens wat ontvangs neem van ‘n Boeing ter waarde van 1,035-miljard-rand verlam word deur die tariewe.
# En krieket: Die 14-jarige skugter skoolseun, Vaibhav Suryavanshi, beleef ‘n droom nadat hy die jongste speler in die geskiedenis van die Indiese Premierliga geword het. Hy het die geleentheid gevier met ’n selfversekerde ses van sy heel eerste bal. Die vreeslose linkskolwer word beskou as ’n opkomende superster nadat hy as Rajasthan Royals se aanvangskolwer uitgestap het. Hy het 34 lopies van 20 balle aangeteken, wat drie sesse en twee viere ingesluit het. Suryavanshi kom uit Indië se armste staat, Bhir. Sy pa is ’n boer en deeltydse joernalis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….