Nuus 09:00
BULLETIN 18 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana bevestig BTW-verhoging tree op 1 Mei in werking ondanks politieke teenkanting
# IMF-hoof verwag die wêreld sal resessie vryspring ondanks Trump se tariewe
# En Tennis: Davidovich Fokina wen teen Rublev by die Barcelona Ope na sesde probeerslag
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bevestig die BTW-verhoging van ‘n halwe persentasiepunt sal op 1 Mei voortgaan soos beplan, ondanks regstappe deur die DA en EFF. Godongwana voer in hofstukke aan die BTW-verhoging is nodig om besnoeiings in besteding aan openbare dienste, of verdere skuld te vermy. Hy het die DA se bewering dat die BTW-verhoging ongrondwetlik is, van die hand gewys aangesien die wet hom toelaat om sulke verhogings aan te kondig, mits die Parlement dit goedkeur. Die saak word Dinsdag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor.
# Nuwe data van TransUnion Afrika se 2025 verbruikerspols-studie tussen Januarie en Maart toon aan dat 31-persent van Suid-Afrikaners nou hul kredietverslae maandeliks nagaan. Fatgie Adams van TransUnion, het aan SABC News gesê meer as die helfte van die verbruikers wil hul kredietgradering verbeter, wat ‘n verhoogde finansiële bewustheid aandui. Net 34-persent gebruik egter verslae vir bedrogvoorkoming ten spyte van toenemende pogings tot swendelary. Hy stel voor kredietverslae word gereeld nagegaan om finansieel gesond te bly:
# Die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds sê die wêreldekonomie sal, ten spyte van president Donald Trump se tariewe, waarskynlik ’n resessie vryspring. Die onvoorspelbaarheid van Amerikaanse tariefplanne het die wisselvalligheid van die markte tot vlakke gedryf wat laas tydens die Covid-19-pandemie gesien is. Ekonome verwag dat die nuwe invoerheffings groei sal demp en inflasie, ten minste in die kort termyn, sal opstoot. Die IMF se besturende direkteur, Kristalina Georgieva, sê die fonds verwag noemenswaardige afwaartse aanpassings in groei, maar geen resessie nie.
# Die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op inwoners om hierdie Paasfees saam te staan teen geslagsgeweld. Die DA-lid, Wendy Kaizer-Philander, sê daar is dikwels ‘n toename in mishandelingsake tydens vakansies, met meer as agt-duisend-700 voorvalle van gesinsgeweld wat van Oktober tot Desember verlede jaar in die provinsie aangemeld is. Sy versoek gemeenskappe om waaksaam te bly, nie stil te bly nie en hulp te soek:
# Tennis: Alejandro Davidovich Fokina het wêreld nommer agt, Andrey Rublev, met 7-5, 6-4 geklop om die kwarteindronde van die Barcelona Ope te haal. Die Spanjaard kon die Rus nog nooit klop nie, maar het uiteindelik met sy sesde poging in skoon stelle geseëvier. Davidovich Fokina, wat in die halfeindronde by die Monte Carlo-meesterstoernooi gespeel het, het drie keer gebreek in ’n wisselvallige eerste stel, met Rublev wat twee keer teruggebreek het. Vroeër het Jaume Munar van Spanje 7-5, 6-4 teen Karen Khachanov verloor. Khachanov kom volgende teen Davidovich Fokina te staan.
# En ten slotte: Koa Akademie stel ’n gratis vyf-week aanlyn entrepreneurskap-uitdaging bekend vir Suid-Afrikaanse jongmense tussen nege en 16 jaar oud, met mentorskap deur ekonoom Dawie Roodt en musikant Majozi. Die kursus, wat volgende maand begin en deur Pranary Business School geakkrediteer is, sal jong leerders wys hoe om hul eie ondernemings te begin en te laat groei. Die akademie se hoof, Mark Anderson, sê leerders sal opleiding ontvang, sakeplanne ontwikkel, en hul idees aan werklike beleggers voorlê vir moontlike befondsing en mentorskap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….