Nuus 09:00
BULLETIN 14 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dawie Roodt waarsku oor die land se bestedingspatroon
# Denosa sê die tenderstelsel van die gesondheidsorgsektor moet herskik word
# En die president van Ecuador, Daniel Noboa word herkies
# Die ekonoom Dawie Roodt sê Suid-Afrika is besig om ‘n kultuur van staatsafhanklikheid te skep in plaas daarvan om ekonomies selfversorgd te word en groei te bewerkstellig. In die 2025/2026-begroting wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana ingedien het, sal gekonsolideerde staatsbsteding na verwagting 2,59-duisend-miljard-rand bereik. Sowat 65-persent van staatsbesteding word deur salarisse, skulddelging en die maatskaplike toelaagstelsel opgeneem. Roodt sê die herbalansering van die begroting deur verminderde besteding, ‘n laer belastinglas en ‘n meer doeltreffende regeringstelsel is nodig.
# Die verpleegvakbond Denosa vra die Gesondheidsdepartement om korrupsie uit te roei deur die tenderstelsel te hersien en deursigtige prosesse te verseker. Die departement beplan om meer hospitaalbeddens, matrasse en linne aan te skaf om pasiënte se sorg en waardigheid te verseker. Denosa se woordvoerder, Sonia Mabunda-Kaziboni, sê indien hierdie verkryging deur die bestaande tenderstelsel bestuur word, kan dieselfde korrupte praktyke plaasvind wat tans ander projekte van openbare gesondheid teister:
# ActionSA se Vroueforum betoog vandag buite die Roodepoort-landdroshof in Gauteng waar ‘n man wat van seksuele aanranding beskuldig word, sy eerste hofverskyning maak. Die man wat ʼn gewese fasiliteerder van die geletterdheidsorganisasie, Nal’ibali, is, het na bewering verlede maand ʼn graad 3-leerder by Braamfischerville Primary School in Soweto seksueel aangerand. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê die Gautengse Onderwysdepartement moet sy pogings om onderwysers en fasiliteerders te werf, verskerp:
# Ecuador se regse president, Daniel Noboa, is herverkies deur die linkse kandidaat, Luisa González geklop. Voorlopige data toon dat met 92,61-persent van die stemme getel, Noboa 55,85-persent van die stemme verwerf het, vergeleke met 44,15-persent vir González. Noboa het sy verkiesingsoorwinning as geskiedkundig beskryf. Gonzáles sê sy gaan nie die verkiesingsuitslag erken nie en beskuldig Noboa van magsmisbruik deur nie terug te staan, soos die wet vereis nie. Sy voeg by dit is ‘n diktatuur en die grootste verkiesingsbedrogspul wat Ecuador se mense nog ooit gesien het.
# Sokker: Die verdedigende kampioene Orlando Pirates kom teen Kaizer Chiefs te staan in die eindstryd van die Nedbankbeker – die eerste Soweto-eindstryd in die kompetisie in byna 20 jaar. Die Buccaneers het Marumo Gallants in die Orlando-stadion met 1-0 geklop danksy ‘n doel deur Kabelo Dlamini in die eerste helfte, om dit hulle derde agtereenvolgende eindstryd te maak. Chiefs het Mamelodi Sundowns ingehaal en met 2-1 op Loftus Versfeld gewen. Pirates se afrigter Jose Riveiro sê hulle het goed gevaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 21-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-522-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-232-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….