Nuus 09:00
BULLETIN 11 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal die Oekraïense president op 24 April ontvang
# ActionSA sê dringende optrede is nodig om die voortslepende taxi-geweld te bekamp
# En Donald Trump moet ’n man wat verkeerdelik na El Salvador gedeporteer is terugbring
President Cyril Ramaphosa sal op 24 April die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky ontvang vir ‘n werksbesoek. Die vergadering, wat by die Uniegebou in Pretoria sal plaasvind, sal uitsluitlik fokus op die voortgesette konflik tussen Oekraïne en Rusland. Zelensky se besoek kom te midde van berigte oor gespanne verhoudings tussen Oekraïne en die VSA en toenemende wêreldwye pogings om ‘n vreedsame oplossing vir die konflik te vind, met Suid-Afrika wat sy ondersteuning vir dialoog en diplomatieke pogings handhaaf.
# Die Instituut vir Rasseaangeleenthede sê opposisiepartye wat die voorgestelde BTW-verhoging teenstaan as beginselbeswaar, moet ook negatiewe sakebeleid konfronteer. Die instituut het die EFF en MK-party gevra om nie net die BTW-verhoging te verwerp nie, maar om ook arm gemeenskappe daadwerklik te beskerm teen wat inderwaarheid belasting is vir swart ekonomiese bemagtiging. Makone Maja van die instituut sê dit is noodsaaklik om SEB-vereistes te verminder en só gemarginaliseerde gemeenskappe teen verdere verarming te beskerm:
# ActionSA in Gauteng het die voortslepende taxigeweld veroordeel wat sedert Januarie 59 lewens geëis het. ‘n Taxi-beampte van die Witwatersrand African Taxi Association, was een van drie wat hierdie week in Mofolo in Soweto doodgeskiet is. John Moodey van ActionSA sê deur hierdie afgryslike dade slegs te veroordeel, het in die verlede niks gehelp nie en sal in die toekoms ook nie, tensy die wet toegepas word. Hy sê die provinsiale regering moet deurslaggewende stappe doen om die slagting te beëindig:
# Die Amerikaanse hooggeregshof het president Donald Trump se administrasie opdrag gegee om seker te maak ʼn man van Maryland wat verkeerdelik na ʼn tronk in El Salvador gedeporteer is, keer terug. Die administrasie het bevind Kilmar Abrego Garcia is weens ʼn administratiewe fout gedeporteer. Hy was op 15 Maart op een van drie hoëprofiel-vlugte na El Salvador wat ook Venezolaanse bendelede ingesluit het. Die Trump-administrasie waarsku dat die eis om Abrego Garcia se terugkeer te bewerkstellig, beginsels oor die skeiding van magte skend.
# Gholf: Justin Rose van Engeland loop voor met drie houe ná die openingsronde van die Meesterstoernooi in Augusta, Georgia. Die 44-jarige het sewe-onder baansyfer, 65, aangeteken, en daarmee ‘n groot voorsprong verkry op die verdedigende kampioen, Scottie Scheffer van Amerika, Swede se Ludvig Åberg en Corey Conners van Kanada. Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy jongste aanslag op die titel begin met 72 gelyk aan baansyfer. Rose, wat in sy 20ste Meesters speel, sê sy ervaring op die baan help:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-35-sent teen die dollar, 21-rand-90-sent teen die euro en 25-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-96-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-216-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….