Nuus 09:00
BULLETIN 10 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP wil met die DA vergader oor die begrotingsdooiepunt
# Cosatu verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die Wysigingswet op Munisipale Stelsels
# En Gaboen berei voor vir sy eerste verkiesing sedert die staatsgreep in 2023
# Die IVP het ‘n bilaterale gesprek met die DA aangevra om sy posisie te verstaan oor die dooiepunt met die begroting. Die ANC en DA – die twee grootste partye in die regering van nasionale eenheid – is verdeel oor verskeie kwessies, veral oor die beoogde BTW-verhoging. Die DA het met regstappe begin teen die aanvaarding van die begrotingsraamwerk verlede week in die parlement. Die IVP sê hulle wil onder meer praat oor die DA wat sowel regering as opposisieparty wil wees.
# Cosatu het die Konstitusionele Hof se bekragtiging van die Arbeidshof se uitspraak ten gunste van die vakbondfederasie en SAMWU se uitdaging van die Wysigingswet op Munisipale Stelsels se grondwetlikheid, verwelkom. Albei howe het bevind die reël dat geen munisipale werkers ‘n amp in ʼn politieke party mag beklee nie, is ongrondwetlik. Cosatu-woordvoerder, Matthew Parks, sê die wysigingswet is ʼn aanval op die reg tot vryheid van politieke assosiasie:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap het die bekendmaking van die verslag oor die gebouramp in George verwelkom wat bevind het sistemiese nalatigheid het regdeur die bouproses voorgekom. Vier-en-dertig werkers is dood toe die gebou wat in aanbou was in Mei verlede jaar ineengestort het. Chantelle Kyd van GOOD sê hulle ondersteun die besluit om die betrokke amptenare te skors, maar hulle is ook uiters bekommerd oor die George-munisipaliteit se andeel in die ramp:
# Gaboen gaan hierdie naweek na die stembus vir sy eerste presidensiële verkiesing sedert die militêre staatsgreep in 2023 wat die Bongo-familie se 56-jaarlange heerskappy beëindig het. Die staatsgreepleier Brice Oligui Nguema, nou die oorgangs-president is, is kandidaat vir die presidentskap en staan teen die voormalige eerste minister Alain Claude Bilie By Nze as sy hoofteenstander. Nguema word as die voorloper beskou as gevolg van sy rol in die staatgreep en politieke beheer. Ondersteuners sien die stemmery as ‘n geleentheid vir verandering en ‘n simbool van hoop vir die toekoms van Gaboen.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, is in die tweede ronde van die Monte Carlo Meesters uitgeskakel. Die Chileen, Alejandro Tabilo, het die Serwiër onverwags op die kleibaan geklop. Die vierde gekeurde Noorweër, Casper Ruud, het die Spanjaard Roberto Bautista Agut gemaklik verslaan om die derde ronde te haal, terwyl die sewende gekeurde Rus, Andrey Rublev, die Fransman Gael Monfils geklop het. Grigor Dimitrov van Bulgarye het met die promotorskeuse, Valentin Vacherot van Frankryk afgereken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-30-sent teen die dollar, 21-rand-20-sent teen die euro en 24-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-706-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-125-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….