Nuus 09:00
BULLETIN 9 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF dien hofstukke in teen die aanvaarding van die fiskale raamwerk
# Vier gesoekte misdadigers is in Umlazi doodgeskiet
# En minstens 79 kom om in ‘n nagklub in die Dominikaanse Republiek
# Die EFF het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om by die DA aan te sluit in sy aansoek vir die uitdaging van die 2025/2026 begroting se fiskale raamwerk ten einde dit onwettig en ongrondwetlik te verklaar. Di fiskale raamwerk is verlede week in die Parlement aanvaar en sluit ‘n 0,5-persent verhoging in BTW in wat in Mei in werking tree. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die Parlement se staande komitee oor Finansies se aanvaarding van die raamwerk is nie in ooreenstemming met die wet nie:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Kleinsakeontwikkeling doen ‘n beroep op alle township- en landelike spazawinkeleienaars om voordeel te te trek uit die 500-miljoen-rand se Spazawinkel-ondersteuningsfonds. Die fonds verskaf ondersteuning aan Suid-Afrikaanse township-geriefwinkels in swart besit, insluitend spazawinkels, om hulle deelname uit te brei aan die kleinhandelsektor in townships en landelike gebiede. Die komiteevoorsitter, Masefako Dikgale sê spazawinkels is ‘n multi-miljard-rand sektor wat by die hoofstroom-ekonomie ingesluit moet word om groei en werkskepping te stimuleer en armoede uit te wis.
# Vier vermeende misdadigers is Dinsdag op die M4-hoofweg naby die ou lughawe buite Umlazi, suid van Durban, in ‘n skietery met die polisie dood. Die verdagtes is vermoedelik aktiewe lede van die Wes-bende wat townships in die noorde van Durban teister. Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die verdagtes is deur lede van Misdaadintelligensie, die Inanda-polisie se taakspan en die Metropolisie se Trio-misdaadspan dopgehou:
# Minstens 79 mense is dood en meer as 200 beseer toe die dak van ‘n ikoniese nagklub in die Dominikaanse Republiek vroeg gisteroggend ineengestort het. Sowat 300 mense was in die Jetset-nagklub in die hoofstad Santo Domingo toe die dak tydens ‘n vertoning van die kunstenaar Rubby Pérez ingetuimel het. ‘n Voormalige Major League bofbalspeler, Octavio Dotel is van diegene wat dood is. Amptenare sê sowat 400 reddingswerkers soek steeds na oorlewendes en vrees die dodetal kan nog styg.
# Sokker: Arsenal het Real Madrid met 3-0 verslaan in die eerste deel van die Kampioeneliga-kwarteindronde by die Emirates-stadion in Londen. Declan Rice het twee vryskoppe aangeteken en Mikel Merino het ʼn derde bygevoeg. Dit gee die Gunners ʼn goeie kans om die halfeindronde te haal. In Duitsland het Inter Milan ʼn 2-1-sege oor Bayern Munich behaal in hulle kwarteindwedstryd. Arsenal se bestuurder, Mikel Arteta, was verheug oor Rice se twee skitterende vryskoppe:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-77-sent teen die dollar, 21-rand-84-sent teen die euro en 25-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-578-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-8-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….