Nuus 09:00
BULLETIN 5 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regspraktykraad gaan aansoek doen om Busisiwe Mkhwebane van die advokate-rol te skrap
# Amerikaanse aandele beleef hul ergste week sedert Covid ná Trump-tariewe van krag word
# En rugby, Edinburgh oorweldig die Leeus in die Uitdaagbeker
# Die Regspraktykraad gaan aansoek doen dat die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, van die advokate-rol geskrap word. Die gewese EFF-parlementslid en huidige MK-party-verteenwoordiger is as hoof van die Suid-Afrikaanse waghond-organisasie verwyder ná ‘n Artikel 194-ondersoek na haar gedrag. Daar is bevind sy is onbevoeg vir die amp en is in September 2023 uit die pos verwyder. Die raad sê hy het die saak na sy prokureurs verwys om die instelling met die aansoek te help.
# Die MK-party sê hy gaan betoog teen president Volodymyr Zelensky van Oekraïne se komende staatsbesoek aan Suid-Afrika. Die sekretaris-generaal Floyd Shivambu veroordeel die regering se besluit om Zelensky te nooi en noem hom ʼn strooipop-president. Zelensky kom na verwagting volgende week in Pretoria aan vir ʼn amptelike staatsbesoek. Hy beklemtoon dat Zelensky se besoek teen die land se onverbonde standpunt oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne indruis:
# Aandelemarkte in Amerika het hul ergste week sedert 2020 beleef terwyl Donald Trump se omvattende tariewe groot beroeringe in wêreldmarkte veroorsaak. Al drie hoof-aanwysers op Wall Street het vandeesweek meer as vyf-persent gedaal. Aandele in groot Amerikaanse maatskappye soos Nike en Apple wat produkte in Asiatiese lande met hoë tariewe vervaardig, het die meeste geval. Trump sê belasting op ingevoerde goedere sal die Amerikaanse ekonomie sterk sal laat groei. Sommige tariewe is reeds van krag met ʼn basisheffing van tien-persent vir lande soos die Verenigde Koninkryk en talle ander.
Verder is twee klein, afgeleë Antarktiese buiteposte, bewoon deur pikkewyne en robbe, van die onbekende plekke wat geteiken word deur die Trump-administrasie se nuwe tariewe. Die Heard- en McDonald-eilande, ‘n gebied vier-duisend kilometer suidwes van Australië, is slegs toeganklik met ‘n sewe-dae bootrit vanaf Perth, en is byna ‘n dekade laas deur mense besoek. Die eilande, soos die res van Australië, is nou onderhewig aan ‘n tien-persent tarief. Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, sê dit illustreer die feit dat geen plek op aarde veilig is teen Trump se tariewe nie.
# En rugby: Die Leeus is die tweede agtereenvolgende keer uitgeskakel in die ronde van 16 nadat Edinburgh hulle Vrydagaand by die Hive-stadion met 24-12 verslaan het. Die gashere het in die eerste helfte drie drieë gedruk en die Leeus was teen rustyd 17-0 agter. Hulle het beter gevaar in die tweede helfte met ʼn drie deur Franco Horn en ‘n laat oorduik deur Jaco Visagie. Edinburgh sal nou kragte meet teen die wenner van vanmiddag se wedstryd tussen die Bulle en Bayonne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….