Nuus 09:00
BULLETIN 3 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Patricia de Lille moedig partye aan om saam te werk en die behoeftes van die land eerste te stel
# Saftu sê die DA se beswaar teen die BTW-verhoging gaan nie oor ondersteuning vir die armes nie
# En vyf vermeende transitorowers is in KwaZulu-Natal doodgeskiet
# Die GOOD-party se leier, Patricia de Lille, sê dis nie nou tyd vir partye se houdings en politiekery nie, maar vir dapper nasionale besluitneming om Suid-Afrika se prioriteite te identifiseer en daaraan te werk. Die ANC het Woensdag daarin geslaag om die fiskale raamwerk en belastingvoorstelle onderliggend aan die nasionale begroting in die Nasionale Vergadering aanvaar te kry. De Lille sê die vooruitsigte vir ekonomiese groei bly haglik en onvoldoende om armoede, werkloosheid en ongelykheid aan te spreek:
Die vakbond Saftu sê intussen die DA se onlangse teenkanting teen die voorgestelde BTW-verhoging van 0,5-persent is nie bewys dat hy armoede wil verlig nie, maar omdat hy gekant is teen die herverdeling van rykdom. Die DA dien vandag hofstukke by die Wes-Kaapse Hooggeregshof in om die Parlement se aanvaarding van die 2025/2026 nasionale begroting te betwis. Saftu-woordvoerder Newton Masuku sê die DA wil rykes beskerm, nie armes nie:
# Vyf vermeende transitorowers is Woensdag in ‘n skietgeveg met die polisie in Ridgeview, Durban doodgeskiet. Die groep is glo dopgehou na Maandag se transitorooftog op die M25-hoofweg in KwaMashu waar ‘n onbekende hoeveelheid kontant geroof is. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê hulle het ‘n intelligensie-gedrewe operasie uitgevoer na inligting ontvang is dat die verdagtes weer ‘n transitorooftog beplan, die keer in die iLembe-distrik:
# President Cyril Ramaphosa is vandag die gasheer vir sy Zambiese eweknie, Hakainde Hichilema, wat op ‘n werksbesoek aan Suid-Afrika is. Dit is Hichilema se eerste amptelike besoek aan die land sedert hy in Augustus 2021 aan bewind gekom het. Die Presidensie sê die doel van die besoek is om die geskiedkundige bilaterale betrekkinge wat tussen die twee lande bestaan, verder te versterk. Die twee leiers gaan praat oor beleggings wat tot wedersydse voordeel is vir streeksontwikkeling, soos mineraalveredeling, plaaslike vervaardiging en landbou.
# Sokker: Liverpool loop weer met 12 punte voor op die Premierliga-punteleer na sy 1-0-sege oor Everton by Anfield. Diogo Jota se doel in die tweede helfte het die oorwinning in die Merseyside-derby beklink. Liverpool het slegs 13 uit ‘n moontlike 24 punte nodig om die titel te buit. Die heersende kampioene, Manchester City, is weer op die wenpad na ʼn 2-0-oorwinning teen Leicester. Ipswich, wat moontlik kan terugskuif, het hul eerste sege van die jaar behaal deur Bournemouth met 2-1 te klop. Newcastle en Aston Villa het ook koning gekraai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-296-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-147-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….