Nuus 09:00
BULLETIN 27 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa aanvaar Andrea Johnson se bedanking
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verkry ‘n bewaringsbevel teen die voormalige uitvoerende hoof van PRASA
# En die Berlin Pride-aanvaller word deur die polisie doodgeskiet
# President Cyril Ramaphosa het die versoek van die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, advokaat Andrea Johnson, aanvaar om met onmiddellike effek uit die amp te tree. Sy het aan die president en Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, geskryf en versoek om met onmiddellike ingang te bedank en van haar kennisgewingstydperk van drie maande kwytgeskeld te word. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het Johnson vir haar jare lange diens bedank:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal ontvang om twee eiendomme van miljoene rand te vries wat verbind word met die gewese hoof van die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap, Lucky Montana. Die eiendomme is een in Hurlingham, Johannesburg, wat vir 13,5-miljoen-rand aangekoop is, en een in Waterkloof, Pretoria, wat 2,25-miljoen-rand gekos het. Die ondersoekeenheid se woordvoerder, Selby Makgotho, het aan Newzroom Afrika gesê die ondersoek het ʼn geld-spoor ontdek wat die eiendomme verbind met PRASA se omstrede 5,6-miljard-rand tender vir ʼn geïntegreerde sekuriteitstoegang-bestuurstelsel:
# Die Interministeriële Migrasie-komitee sê bedrywighede by die tydelike repatriasie-sentrum in Musina sal van 1 Augustus af van 20-duisend tot een-duisend-500 afgeskaal word. Dit volg na ʼn volgehoue afname in die getal ongedokumenteerde buitelanders wat by die fasiliteit verwerk moet word. Meer as 68-duisend buitelanders se inligting is sedert Junie vir repatriasie of deportasie verwerk. Die minister van Justisie en Grondwetlike ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die geleidelike vermindering sal nie die regering se vermoë beperk om ongedokumenteerde burgers te repatrieer of te deporteer nie.
# Die Duitse polisie het die verdagte in die “Islamitiese terreuraanval” tydens Pride-vieringe in Berlyn doodgeskiet. Die man is geïdentifiseer as die 21-jarige Abdul Ballout, ‘n Duitse burger van Libanese afkoms. Hy het met ‘n voertuig in ‘n skare naby Tiergarten Park ingejaag voordat hy verskeie mense met ‘n panga aangeval het. Een persoon is dood en minstens 29 is beseer. Ballout is doodgeskiet tydens ‘n konfrontasie met die polisie by ‘n tuinkompleks in die Spandau-distrik van Berlyn. Die Duitse kanselier Friedrich Merz het die voorval as ‘n gruweldaad veroordeel.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê dis nie die polisie se basiese verantwoordelikheid om immigrasiewette af te dwing nie. Hulle werk egter saam met die betrokke departemente om wetstoepassing te ondersteun. Wetstoepassingsowerhede het tot op hede 354 inhegtenisnemings en vervolgings geregistreer wat met migrasie verband hou. Cachalia sê daar is geen bykomende opleidingsvereistes vir polisiebeamptes om immigrasiewette toe te pas nie:
# Fietsry: Die Sloween Tadej Pogačar het met sy vyfde sege in die wedren, die rekord vir Tour de France-oorwinnings geëwenaar, en daarmee sy status as een van die sport se allergrootstes bevestig. Die 27-jarige Pogačar van die Emirates-XRG-span het ses minute en 26 sekondes voor die Belgiese ryer Remco Evenepoel op die algehele punteleer geëindig, met die Mexikaan Isaac del Toro derde. Die laaste skof van die drie weke lange toer is deur die Nederlander Mathieu van der Poel van Alpecin-Premier Tech gewen. Pogačar, wat vyf skofte tydens vanjaar se wedren gewen het, het die oorwinning as spesiaal beskryf:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-336-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-88-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….