Nuus 09:00
BULLETIN 1 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê die Onteieningswet is ‘n rampspoedige stap
# Twee voormalige Staatsveiligheidsagentskapbeamptes word vir bedrog in hegtenis geneem
# En die Instituut vir die Studie van Oorlogvoering sê Rusland sloer met die skietstilstand
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê sy regspan is gereed om die regsoptrede te steun om die Onteieningswet teen te staan. Talle politieke partye en ander organisasies daag die wet in die Konstitusionele Hof uit. Bennie van Zyl van TLU SA sê elke instelling en individu met ‘n begrip van ekonomie waarsku lank reeds dat onteiening sonder vergoeding ʼn katastrofiese uitwerking op beleggersvertroue sal hê. Hy sê die onteieningsklousule is ongrondwetlik en die Konstitusionele Hof moet dit verwerp:
# Twee gewese intelligensie-amptenare van die Staatsveiligheidsagentskap is in hegtenis geneem in verband met bedrog en geldwassery van sowat 5,8-miljoen-rand se staatsgeld. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Teenkorrupsie-direktoraat sê Ntshavheni Prince Makhathana en Matome Solomon Ralebipi word beskuldig van geldwassery deur die gebruik van die maatskappy Ralebipi Properties CC. Die maatskappy is volgens die staat geskep as platform vir geldwassery om die oorsprong van wins uit misdaad te verbloem. Die twee het Maandag reeds in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het die toekenning van 227,7-miljoen-rand aan munisipaliteite in KwaZulu-Natal verwelkom. Die nasionale regering het die fondse toegeken om infrastruktuur te herstel wat deur natuurrampe soos oorstromings en veldbrande beskadig is. Die provinsiale departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê tussen Desember 2024 en Maart vanjaar is 30 mense in KZN in natuurrampe dood en meer as tien-duisend is daardeur geraak:
# Die Instituut vir Oorlogstudies sê Rusland hou die tydelike skietstilstand in die Swartsee gyselaar om pogings vir ʼn algemene skietstilstand in Oekraïne te vertraag. Die Kremlin het verlede week gesê hy sal nie die ooreengekome skietstilstand in die Swartsee instel voordat Amerika sanksies teen die Russiese landboubank, Rosselkhozbank, en ander ongespesifiseerde finansiële organisasies ophef nie. Die instituut sê dis onwaarskynlik dat Amerika, Oekraïne en Rusland binne die volgende drie weke die bepalings van ʼn algemene skietstilstand sal afhandel.
# Krieket: Die Mumbai Indians het hulle eerste oorwinning in vanjaar se Indiese Premierliga behaal toe hulle die verdedigende kampioene, Kolkata Knight Riders, met agt paaltjies afgeransel het. Die nuweling, Ashwani Kumar, het vier paaltjies laat val en die KKR was almal uit op 116. Kumar is die eerste Indiese speler wat vier paaltjies in sy eerste IPL-wedstryd laat kantel. Die Suid-Afrikaner Ryan Rickelton het geantwoord met 62 en Mumbai het die teiken bereik met 43 balle oor. Rickelton sê hierdie oorwinning was ʼn verligting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-26-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-142 dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….