Nuus 09:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 29 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bekragtig die Wetsontwerp op Algemene Intelligensiewette
# Die DA eis proaktiewe maatreëls om smokkelnetwerke in tronke stop te sit
# En, Amerika se vise-president sê die VSA gaan sy fokus op Noordpoolse veiligheid oor dekades uitbrei
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Algemene Intelligensiewette bekragtig, wat groot veranderings in intelligensiedienste meebring. Die Staatsveiligheidsagentskap sal vervang word deur twee nuwe instansies, die Buitelandse Intelligensiediens en die Binnelandse Intelligensie-agentskap, na aanleiding van aanbevelings deur die Zondo-kommissie en ‘n hoëvlak-hersieningspaneel. Die woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die wet sal die intelligensie-opleidingsakademie laat herleef, parlementêre toesig versterk, en strenger beheer oor internet-waarneming afdwing:
# Die DA sê hy het die voorsitter van die Gekose Komitee oor Veiligheid en Justisie, Jane Mananiso, skriftelik versoek om ‘n dringende gesamentlike vergadering met die ministers van Polisie en Korrektiewe Dienste, Senzo Mchunu en Pieter Groenewald, aan te vra. Nicholas Gotsell van die DA sê die vergadering is nodig vir duidelikheid oor die planne teen smokkelnetwerke in hul departemente om ‘n einde te maak aan die hoë vlak van misdaad weens bendes en dwelms in die Wes-Kaap, veral op die Kaapse Vlakte:
# Eskom sê die elektrisiteitsnetwerk bly stabiel terwyl noodreserwes strategies aangewend word om aan die vraag na krag te voorsien, veral met spitstye. Die faktor vir ‘n onbeplande verlies aan vermoë, of onbeplande onderbrekings vir die boekjaar tot dusver, is 25-komma-85-persent, wat beter is as die die 32-komma-38-persent dieselfde tyd verlede jaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die verbetering van ses-komma-vyf persent dui op ‘n meer betroubare netwerk:
# Amerika se vise-president, JD Vance, het met sy besoek aan Groenland gister aan die media gesê Amerika se belangstelling in die veiligheid van die Noordpoolgebied gaan dekades lank groei. Vance het gesê hoewel Amerika Groenland se selfbeskikking erken, sal ‘n Amerikaanse veiligheidsambreel oor dié gebied tot Groenland se eie voordeel wees. Vance het Amerika se weermagbasis by Pituffik in die noorde van die eiland besoek kort nadat ‘n nuwe breë regeringskoalisie in die hoofstad, Nuuk, bekendgestel is om voorlopig bande met Denemarke te behou.
# En, Krieket: Engeland se gewese toetskaptein, Joe Root, stel nie belang om die land se witbal-span se leier te word nie. ‘n Nuwe kaptein moet aangewys word nadat Jos Buttler bedank het na die span se swak vertoning in die Kampioenetrofee, waar hulle in die groepsfase uitgeskakel is. Root sê hy is klaar met die kapteinsrol, maar glo die volgende leier sal ‘n briljante taak verrig. Die bestuur het vroeër gesê een van die moontlikhede is om toetskaptein Ben Stokes aan te stel in al drie formate.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….