Nuus 09:00
BULLETIN 28 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die Onteieningswet sal die grondhervormingsproses bespoedig
# Die DA sê Eskom se elektrisiteitsprys-vastellingsbeleid moet hersien word
# En koning Charles het tydelike newe-effekte van kanker
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê terwyl die Onteieningswet kan seker maak dié van wie se grond weggeneem is, word vergoed, moet die proses volgens wet geskied. Die regering het tans ‘n agterstand van vyf-duisend-600 grondeise van 1998, waarvan slegs 300 per jaar afgehandel word. Mashatile het gister op vrae in die Raad van Provinsies bewerings van die Amerikaanse administrasie ontken dat die Onteieningswet bedoel is om witmense se grond af te vat:
# Die DA in die Wes-Kaap het die begroting van 87,986-miljard-rand verwelkom wat die LUR vir Finansies, Deidre Baartman, ter tafel gelê het. Die meeste daarvan – nagenoeg 80-persent van die totale besteding – gaan vir maatskaplike dienste oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk. Peter Johnson van die DA sê dít sal sorg vir gehalte-onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike-ontwikkelingsdienste, terwyl dit ook ‘n gunstige omgewing skep vir ongehinderde ekonomiese groei en werkskepping:
# Die GOOD-party sê die ANC-koukusleier in Kaapstad, Banele Majingo, het nie net sy eie party verraai nie, maar al die opposisielede in die metro. Majingo het bedank en by die DA aangesluit. Hy sê hy het besef sy waardes en beginsels kom nou meer ooreen met dié van die DA. Jonathan Cupido van GOOD sê Majingo het net verlede maand namens die veelparty-opposisie ʼn mosie van wantroue ingedien teen die raadspeaker, Felicity Purchase:
# Koning Charles is gister vir waarneming in ‘n hospitaal opgeneem weens ‘n tydelike newe-effek van die ongeïdentifiseerde kanker waarmee hy verlede Februarie gediagnoseer is. Die Buckingham-paleis sê die koning het as voorsorgmaatreël en in opdrag van sy dokters vandag se afsprake uitgestel. Koning Charles en koningin Camilla reis volgende week vir ‘n staatsbesoek na Italië.
# Krieket: Die Lucknow Super Giants het die Sunrisers Hyderabad met vyf paaltjies geklop in hul eerste sege vanjaar in die Indiese Premierliga. Sunrisers het 190 vir nege aangeteken nadat hulle ingestuur is om te kolf, met 47 van Travis Head. Shardul Thakur het vier paaltjies geneem. Nicholas Pooran het in antwoord 70 van 26 balle gemoker om die Super Giants te help om die teiken te bereik met 23 balle oor. Die Chennai Super Kings en die Royal Challengers Bengaluru pak mekaar vandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-710-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-73-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….