Nuus 09:00
BULLETIN 25 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party vra vir ‘n parlementêre debat en nasionale beraad oor TB
# Die Oscar-bekroonde Palestynse regisseur word deur Israelse soldate aangehou
# En tennis: Coco Gauff en Naomi Osaka word uitgeskakel by die Maimi Ope
# Die MK-party sê hy gaan aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, skryf en vra vir ‘n parlementêre debat oor tuberkulose. Suid-Afrika is onder 30 lande waar 87-persent van die wêreld se TB-gevalle voorkom. Dit is ook een van tien lande wat die driedubbele las van TB, MIV en ʼn kombinasie van die twee dra. ʼn MK-woordvoerder, Nomahlubi Radebe, sê ʼn dringende verhoging in fondse is nodig vir TB-navorsing en -entstowwe:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek oor die regering se onlangse onthulling dat belastingbetalers 65-miljoen-rand aan eiendomsbelasting van leë staatsgeboue betaal het. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naiker, sê sedert Januarie was daar een-duisend-259 leë erwe in staatsbesit, 207 leë huise en 830 verlate plase wat nie vir gebruik toegeken is nie. Hy sê die regering verloor ʼn geraamde 83-miljoen-rand aan inkomste omdat dit nie verhuur word nie:
# Die GOOD party het die DA van skynheiligheid beskuldig oor die bywerking van Tshwane se eiendomswaardering. Die party sê die voormalige burgemeester en DA-leier, Cilliers Brink, het die proses verlede jaar ondersteun, met verwysing na onreëlmatighede in eiendomsbelasting, maar is nou gekant daarteen. Sarah Mabotsa van GOOD doen ‘n beroep op eiendomseienaars om hul waardasies na te gaan en enige foute te betwis. Mabotsa sê die aanpassings moet voortgaan sonder politieke inmenging om finansiële stabiliteit in die metro te waarborg:
# Die Internasionale Dokumentêre Vereniging eis die onmiddellike vrylating van Hamden Ballal, die Palestynse regisseur van die Oscar-bekroonde dokumentêr, No Other Land. Hy is na wat berig word deur Israelse setlaars in die besette Wes Bank aangerand en soldate het hom weggeneem. Niemand weet waar hy hom bevind nie. Vyf Amerikaanse aktiviste van die Center for Jewish Nonviolence wat op die toneel was, is ook aangerand. Die vereniging sê die Israelse weermag moet Ballal se familie en die gemeenskap oor sy toestand, waar hy is en die rede vir sy aanhouding inlig.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka van Belarus is deur na die kwarteindronde van die Miami Ope na ‘n oorwinning oor die verdedigende kampioen, die Amerikaner Danielle Collins. Die ongekeurde Magda Linette van Pole het die wêreld-nommer-drie, Coco Gauff, van Amerika uitgeskakel. Jasmine Paolini van Italië het die Japanner Naomi Osaka verslaan. In die mansafdeling is die voormalige finalis Alexander Zverev van Duitsland deur na die ronde van 16 na ‘n oorwinning oor die Australiër Jordan Thompson.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-640-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-14-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….