Nuus 09:00
BULLETIN 29 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit is bekommerd oor Ford se jongste afleggings
# Santaco Gauteng sê daar is geen betogings vandag nie
# En Suid-Korea verbied selfone in klaskamers vanaf Maart volgende jaar
# Solidariteit sê hy is bekommerd oor Ford Motormaatskappy in Suider-Afrika se jongste poste-besnoeiings. Die voertuigvervaardiger gaan meer as 470 werkers by sy Struandale-enjinaanleg in Gqeberha, en sy Silverton-monteeraanleg in Pretoria afdank as deel van sy herskikking om aan markaanvraag te voldoen. Solidariteit se adjunk-hoofsekretaris, Willie Venter, sê ekonomiese druk, internasionale politieke onsekerheid en die regering se ongunstige beleide veroorsaak dat die land se motorbedryf al minder mededingend raak:
# Die Activists and Citizens Forum sê president Cyril Ramaphosa het die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat. Dit volg na inwoners van Westbury in Johannesburg, Gauteng, die week die strate ingevaar het oor ‘n gebrek aan skoon drinkwater en ander basiese dienste. Dennis Bloem van die forum voer aan dat toestande onder Ramaphosa se leierskap vererger het, met munisipaliteite wat in duie stort en wydverspreide korrupsie:
# Die nasionale taxi-raad Santaco in Gauteng het die publiek verseker taxivervoer deur die hele provinsie sal vandag soos gewoonlik voortgaan. Dit volg op gerugte dat passasiers in Ekurhuleni ontwrigting te wagte kan wees weens toenemende spanning oor die beslaglegging op minibus-taxi’s, in besonder die tiensitplek-voertuig. Die provinsiale voorsitter van Santaco, Graham Fritz, sê hulle probeer ‘n oplossing deur onderhandeling kry:
# Suid-Korea het ‘n wet deurgevoer wat selfone en digitale toestelle in die land se klaskamers verbied vanaf Maart volgende jaar. Alle partye het die wet gesteun wat daarop gemik is om sosiale media se invloed op jongmense te verminder en bestaande beperkings te formaliseer. Opnames toon Suid-Korea is een van die lande met die meeste digitale toegang, met 99-persent van burgers aanlyn en 98-persent wat slimfone besit. Onderwysdata onthul 37-persent van studente sê sosiale media raak hulle alledaagse lewe, terwyl 22-persent angstig voel sonder toegang.
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner het deurgedring na die derde ronde van die Amerikaanse Ope nadat hy die Australiër Alexei Popyrin verslaan het. Dis die Italianer se 23ste opeenvolgende oorwinning op hardebaan Grand Slams. Alexander Zverev van Duitsland het teen Jacob Fearney van Brittanje gewen en Kamil Majchrzak het Karen Khachanov van Rusland kafgedraf. In die vroueafdeling het die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek van Pole die Hollander met Suzan Lamens, gewen en Coco Gauff het met Donna Vekic van Kroasië afgereken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-629-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-408-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….