Nuus 09:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi onthul ‘n belowende nuwe TB-entstof
# Everest Wealth voorspel die Reserwebank sal nie vandag die repokoers verander nie
# En Olimpiese Spele: ‘n Nuwe IOK-president sal vandag in Griekeland verkies word
# Die minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi sê tuberkulose is een van die oudste en dodelikste siektes, en tog bly dit ‘n stille oorsaak van dood. Net in 2023 het TB meer as 56-duisend sterftes in Suid-Afrika veroorsaak, al is dit ‘n voorkombare en behandelbare siekte. Die minister sê die Beëindig TB-veldtog, wat binnekort van stapel gestuur word, wil TB-verwante sterftes teen 2035 met 41-persent verminder. Motsoaledi sê een van die grootste uitdagings is ‘n gebrek aan ‘n doeltreffende entstof:
# Die GOOD-party sê die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se veldtog om sy goue kaarte te vervang, was ‘n ramp. Van die 2,9-miljoen begunstigdes wat die goue SASSA-kaart gebruik, sal meer as ʼn miljoen na verwagting nie vandag se sperdatum haal om na die swart kaart oor te skakel nie. GOOD-woordvoerder Suzette Little sê hulle ondersteun die regering se pogings tot maatskaplike verligting ten volle, maar SASSA en die Posbank moet aanspreeklik gehou word vir die gemors:
# Everest Wealth sê die Suid-Afrikaanse Rerserwebank gaan waarskynlik nie vandag die rentekoers verander nie. Die rentekoers mag onveranderd bly of net met 25 basispunte verlaag word, met geen beduidende verlagings wat vir eers verwag word nie. Dit volg na kommer oor inflasierisiko’s, met sommige lede van die Monetêre Beleidskomitee wat geen verandering voorstaan nie. Riaan Grobler van Everest Wealth sê inflasierisiko’s en wêreldfaktore, soos die Amerikaanse handelsbeleid en stygende elektrisiteitskoste, sal die bank se besluit beïnvloed.
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê hy is diep bekommerd oor die hervatting van Israel se militêre optrede in Gaza. Israel het vroeër die week ʼn reeks lugaanvalle in Gaza uitgevoer waarin meer as 430 mense dood is. Dit beteken die einde van die wankelrige skietstilstand wat sedert Januarie gegeld het. Starmer maan alle partye om dringend terug te keer na die onderhandelingstafel om die skietstilstandooreenkoms ten volle in te stel en hulle vir vrede te beywer:
# Olimpiese Spele: Die lede van die Internasionale Olimpiese Komitee sal vandag vir die eerste keer sedert 2013 ‘n nuwe president in Griekeland verkies. Sewe kandidate ding mee om die magtigste posisie in die sportwêreld. Die president van Wêreldatletiek Sebastian Coe is een van die gunstelinge, saam het Juan Antonio Samaranch Junior en Kirsty Coventry, wat meeding om die eerste vroulike president van die IOK te wees. Thomas Bach sal tot Junie in die pos aanbly as deel van ‘n oordragproses aan sy opvolger.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-826-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-49-dollar-60 per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-80-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….