Nuus 09:00
BULLETIN 19 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie sal help om kaderontplooiing uit te skakel
# SALGA waarsku die styging in kragpryse gaan meer onwettige verbindings meebring
# En die twee NASA-ruimtevaarders wat in die ruimte vasgevang was, is uiteindelik terug
# Die DA sê die stryd om ANC-kaderontplooiing te beëindig is ‘n stap vorentoe nadat die Nasionale Vergadering die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie gedebatteer en aanvaar het. Die wetsontwerp wil die Staatsdienskommissie reguleer en sy onafhanklikheid bevorder. Jan de Villiers van die DA sê ʼn onafhanklike Staatsdienskommissie is noodsaaklik om seker te maak die staatsdiens bestaan uit professionele, goed gekwalifiseerde kandidate wat volgens meriete en sonder politieke inmenging aangestel word:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering waarsku Eskom se elektrisiteitstarief-verhogings kan tot verdere onwettige verbindings lei. Die Nasionale Energiereguleerder het ‘n verhoging van 12,74-persent goedgekeur vir kliënte vanaf 1 April en ‘n verhoging van 11,32-persent vir munisipaliteite vanaf 1 Julie. Die hoof van Energie by SALGA, Nhlanhla Ngidi, sê sukkelende verbruikers mag hulle dalk wend tot onveilige en onwettige verbindings. Hy waarsku dit kan vandalisme verhoog en munisipaliteite wat reeds worstel met finansiële uitdagings onder verdere druk plaas.
# Die eThekwini-munisipaliteit verwelkom die nasionale regering se rampstatus-afkondiging vir KwaZulu-Natal na verwoestende oorstromings. Die oorstromings het tussen 19 Februarie en 15 Maart die lewens van 15 mense geëis en wydverspreide skade aan infrastruktuur veroorsaak. Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, sê die munisipaliteit het sedert 2019 slegs 1,7-miljard-rand van die 3,1-miljard-rand ontvang waarvoor hy by die nasionale regering vir rampverligting aansoek gedoen het:
# Tennis: Die Beroepstennisspelersvereniging, PTPA, waarvan Novak Djokovic ‘n medestigter is, dagvaar die sport se beheerliggame oor teen-mededingende praktyke en ‘n gebrek aan spelerswelstand. Die hofdokumente van 163 bladsye sê spelers is vasgevang in ‘n spel wat hulle beperkte beheer gee oor hulle loopbane en handelsmerke. Die vereniging kritiseer ook die skedulering van wedstryde, die ranglys, en beheer oor beeldmateriaal en foto’s. Die ATP sê die spelersvereniging se saak is sonder meriete en hy gaan sy saak met alle mag verdedig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-923-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-36-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn SpaceX-kapsule met die NASA-ruimtevaarders, Butch Wilmore en Suni Williams, en nog twee mense, het gister veilig aan die kus van Tallahassee, Florida, in die see neergeplons. Hulle was nege maande in die ruimte. Die twee ruimtevaarders sou aanvanklik net agt dae by die Internasionale Ruimtestasie vertoef, maar is in Junie verlede jaar daar vasgekeer nadat hulle Boeing Starliner-ruimtetuig ʼn probleem ontwikkel het. Die bestuurder van NASA se Kommersiële Bemanningsprogram Steve Stich, sê hulle is bly Wilmore en Williams is tuis:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….