Nuus 09:00
BULLETIN 17 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile is in Japan om bilaterale betrekkinge te herbevestig
# Die DA eis ‘n dringende ondersoek na ‘n SAPD-tender
# En 40 mense is in tornado’s en stofstorms in die VSA dood
# Adjunkpresident Paul Mashatile is op ‘n werksbesoek van drie dae aan Japan om samewerking tussen die twee lande te bevestig. Japan is een van Suid-Afrika se groot ekonomiese vennote met aansienlike belegging in die land, veral wat handel, beleggings, onderwys, wetenskap en tegnologie betref. Die presidensie sê Mashatile sal met die Japannese regering en privaat rolspelers vergader om die land se belangrike aandrywers van ekonomiese groei te bevorder, wat vervaardiging en groter uitvoere insluit. Die adjunkpresident word deur verskeie ministers vergesel.
# Die DA sê die toekenning van ‘n tender van 360-miljoen-rand vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens se gesondheidsdienste aan Medicare24 Tshwane in Junie 2024, wek ernstige vrae, veral oor die betrokkenheid van die gewese amptenaar Petunia Lenono. Sy was ‘n lid van die bod-evalueringskomitee wat aanbeveel het dat Medicare24 die bod moet ontvang, maar skaars ses dae later bedank het. Ian Cameron van die DA sê die SAPD moet dringend ‘n onafhanklike ondersoek na die tender laat doen:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê sy onderneem om alle aanbevelings in die Nasionale Registrasieraad van Huisbouers se finale verslag oor die gebou wat in George in die Wes-Kaap ineengestort het, in te stel. Vier-en-dertig mense is dood en talle beseer toe die onvoltooide gebou in Mei verlede jaar ineengestort en die meeste werkers onder puin begrawe het. Die ministerie se woordvoerder, Tsekiso Machike, sê volgens die huidige voorlopige verslag is talle prosedures nie gevolg nie:
# Minstens 40 mense is in ses state dood nadat dele van Amerika die naweek onder hewige tornado’s deurgeloop het. ʼn Massiewe stormstelsel wat oor die land beweeg het, het dodelike stofstorms en orkaansterkte wind meegebring wat meer as 100 veldbrande, gewelddadige tornado’s en swaar reën veroorsaak het. Noodtoestande is in Arkansas, Georgia en Oklahoma afgekondig. President Donald Trump sê hy gaan voort om die situasie dop te hou en het federale hulpbronne gereed om die stormgeteisterde gemeenskappe by te staan.
# Sokker: Newcastle United het die Carabao-beker gewen toe hy die kampioen, Liverpool, in die Wembley-stadion met 2-1 geklop het en só ‘n trofeëdroogte van 70-jaar vir ‘n binnelandse toernooi beëindig het. Dan Burn en Alexander Isak het vir die Magpies doele aangeteken, terwyl Liverpool se doel deur Frederico Chiesa aangeteken is. Newcastle se Eddie Howe – die eerste Engelse bestuurder wat sedert 2008 ‘n groot toernooi wen – sê hulle was desperaat vir ‘n oorwinning:
## En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-466-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-984-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….