Nuus 09:00
BULLETIN 11 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# People Against Budget Cuts eis dat besnoeiingsmaatreëls beëindig word
# Die opgeknapte Eenheid 2 by Koeberg is weer aanlyn
# En die VN-hoof waarsku vroueregte is wêreldwyd onder beleg
# People Against Budget Cuts sê hulle verwerp enige BTW-verhoging in die begroting en eis ‘n einde aan besnoeiingsmaatreëls wat gemeenskappe negatief raak. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy begrotingsrede in die Parlement. People Against Budget Cuts se woordvoerder, Busi Mtabane, sê die regering moet sy belastingtoekennings heroorweeg en seker maak ekonomiese beleid dien die mense en nie net die elite nie:
# Eskom sê die Koeberg-kernkragstasie se eenheid twee is suksesvol aanlyn teruggebring. Die eenheid het onklaar geraak weens ‘n stoomlekplek in die herverhittingstelsel, wat oor die naweek fase drie beurtkrag veroorsaak het. Die kragnutsmaatskappy sê die eenheid is geleidelik opgestoot na 646-megawatt en sal steeds sy uitset vermeerder tot die volle kapasiteit van 930-megawatt bereik is. Hy voeg by Koeberg is ‘n sleutelbydraer tot sy energie-opwekkingsvermoë om elektrisiteitsverskaffing te stabiliseer.
# Kaapstad se metropolisie het drie verdagtes gearresteer wat aangekla word van ontvoering, afpersing, die rig van ʼn vuurwapen en besit van gesteelde goedere. Die metropolisie se woordvoerder, Ruth Solomons, sê gewapende verdagtes het vier mense, ʼn vrou en drie mans, genader toe hulle by ʼn winkel in Epping 2 wou ingaan. Sy sê die verdagtes het die vier in ʼn Avanza gedwing en weggery. Twee van die slagoffers kon ontsnap deur uit die voertuig te spring:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies , António Guterres, waarsku vroueregte is wêreldwyd onder beleg, en dat swaar-gewonne winste in trurat gegooi word. Hy het die opening van die 69ste sitting van die Kommissie oor die Status van Vroue in New York toegespreek. Dit spreek wydverspreide ongelykhede aan, asook geweld en diskriminasie waarmee vroue steeds te doen het. Guterres sê optrede is nodig om vroue se volle, gelyke en betekenisvolle deelname en leierskap in besluitneming te verseker:
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen Carlos Alcaraz is vir die vierde agtereenvolgende keer deur na die ronde van 16 by die Indian Wells Meesters. Die Spanjaard het die Kanadees Denis Shapovalov geklop. Die negende-gekeurde Australiër Alex de Minaur het presteer met ‘n oorwinning oor Hubert Hurkacz van Pole, terwyl die voormalige Amerikaanse kampioen Taylor Fritz geseëvier het oor Alejandro Tabilo van Chili. In die vroue-afdeling het die Australiese Ope-kampioen Madison Keys van Amerika die Belg Elise Mertens met geklop en deurgedring na die vierde ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-187-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-896-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….