Nuus 09:00
BULLETIN 6 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA dien ‘n PAIA-aansoek in om toegang tot die register van seksoortreders te verkry
# Die Staatsdiens- en Administrasiekomitee aanvaar die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie
# En Trump waarsku Hamas die laaste keer om alle gyselaars in Gaza vry te laat
# BOSA sê die regering se geheimhouding oor die nasionale register vir seksoortreders veroorsaak twyfel oor sy bestaan, akkuraatheid en moontlike politieke inmenging. Die party het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien om toegang tot die register te verkry, en is van mening die openbaarmaking daarvan sal help om seksuele geweld te beveg. Die party se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, beskuldig die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, van die ondermyning van pogings om gemeenskappe te beskerm omdat sy haar belofte teruggetrek het om die lys vry te stel:
# Die parlement se portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie het die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie eenparig aanvaar. Die wetsontwerp is gemik op die versterking van die Staatsdienskommissie en om dit meer onpartydig en onafhanklik te maak. Dit brei ook die kommissie se magte uit na plaaslike owerhede en openbare instellings en versterk die regering se pogings om die staatdiens te professionaliseer. Die komiteevoorsitter, Jan de Villiers, sê die aanvaarding van die wetsontwerp is ‘n belangrike stap in die stryd teen kaderontplooing, die professionalisering van die staat en die skepping van ‘n merietegebaseerde staatsdiens.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die Emfuleni-munisipaliteit se finansiële posisie het verder verswak nadat die aanpassingsbegroting aanvaar is. Die 2024/2025-begroting is met 400-miljoen-rand afwaarts aangepas. Gerda Senekal van die VF Plus sê aangesien die munisipaliteit nie by sy befondsingsplan hou nie, sal daar nie genoeg geld wees om sy krediteure te betaal nie. Sy sê Emfuleni het 720-miljoen-rand nodig om sy maandelikse uitgawes te dek:
# President Donald Trump van Amerika het weer ‘n ultimatum aan Hamas gerig en sê die groep moet alle gyselaars in Gaza onmiddellik vrylaat. Dit volg ure nadat die Withuis bevestig het hy beraadslaag regstreeks hieroor met Hamas. Daar is nog 59 gyselaars in Gaza, maar Israelse intelligensie glo net 22 leef nog. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social hy stuur aan Israel alles wat nodig is om die taak af te handel, en voeg by geen Hamas-lid sal veilig wees as die gyselaars nie vrygelaat word nie.
# Sokker: Liverpool het Paris Saint-Germain met 1-0 geklop in die eerste wedstryd van hulle Kampioeneliga-kragmeting in die ronde van 16 in Parys. Harvey Elliott het in die 87ste minuut punte aangeteken om die Reds ʼn geringe voorsprong te gee in aanloop tot Dinsdag se tweede wedstryd in Anfield. Bayern Munich kan die kwarteindronde bereik nadat hulle Bayer Leverkusen met 3-0 verslaan het nadat Harry Kane twee doele behaal het. Barcelona en Inter Milan het ook koning gekraai. Liverpool se bestuurder, Arne Slot, sê sy span was gelukkig om PSG te klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-676-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….