Nuus 09:00
BULLETIN 5 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die MK-party se hoogverraadsaak teen AfriForum is ’n politieke foefie
# Die Padvragvereniging verwelkom die verlaging in die brandstofprys
# En Donald Trump sê hy wil die Amerikaanse ekonomie red
# Die DA sê die politieke slenter van die MK-party om aanklagte van hoogverraad teen AfriForum te lê, is iets wat Suid-Afrika beswaarlik kan bekostig te midde van die onstuimige en veranderende politieke omgewing. Die MK het verlede maand ‘n aanklag van hoogverraad ingedien en beskuldig AfriForum dat hy buitelandse magte aanpor om teen die land op te tree. Die Valke het onthul hulle ondersoek vier sake van hoogverraad teen AfriForum en Solidariteit. Willie Aucamp van die DA sê dit is nou die tyd vir eenheid:
# Die Padvragvereniging het hierdie maand se geringe daling in die brandstofprys verwelkom. Die prys van 95- en 93-oktaan loodvrye petrol daal met sewe-sent per liter terwyl diesel, afhangende van die graad, 17,5-sent en 23,5-sent per liter minder kos. Die groothandelprys van paraffien daal met ses-sent per liter. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê brandstof bly ‘n hoë insetkoste vir enige maatskappy of sakeonderneming waarvan goedere vervoer moet word:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê die regering kyk na permanente huisvestingsoplossings vir vloedslagoffers in KwaZulu-Natal. Minstens 20 mense is dood na swaar reën en oorstromings in die provinsie die afgelope twee weke. Die minister het Dinsdag die rampgebiede by die Impala-vakansiewoonstelle en Lamontville-township besoek en met vloedslagoffers gepraat. Sy sit vandag haar besoek voort. Simelane sê hulle kyk na die moontlikheid om grond of geboue aan te koop, en dit in eenhede vir vloedslagoffers te omskep.
# President Donald Trump van Amerika sê sy administrasie sal mag terugneem van ʼn burokrasie wat nie aanspreeklikheid aanvaar nie en ware demokrasie in die land herstel. Hy het ʼn gesamentlike vergadering van die Kongres toegespreek. Trump sê hulle het ʼn ekonomiese katastrofe en inflasie-nagmerrie by die vorige administrasie geërf. Hy sê van sy grootste prioriteite is om die ekonomie te red en dramatiese en onmiddellike verligting vir werkende gesinne te bring:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Real Madrid, het ʼn 2-1-sege oor Atletico Madrid behaal wat hulle ʼn skrale voorsprong gee na die eerste afdeling van hulle Kampioeneliga se laaste-16-gelykopspel by die Bernabeu. Brahim Diaz het die wendoel in die tweede helfte aangeteken nadat voorspeler Julian Alvarez van Atletico, Rodrygo se openingsdoel uitgekanselleer het. Arsenal het PSV in Eindhoven met 7-1 verpletter en die eerste span geword wat sewe doele aanteken in ʼn Kampioeneliga-wegwedstryd. Aston Villa het Club Brugge met 3-1 geklop terwyl Borussia Dortmund en Lille gelykop was met een elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-255-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….