Nuus 09:00
BULLETIN 25 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers open
# Die MK-party gaan die eerste Jacob Zuma-lesing in April aanbied
# En Emmanuel Macron sê ‘n vredesooreenkoms in Oekraïne moet geloofwaardige waarborge hê
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die hoofspreker wees by die jaarlikse opening van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers in die Parlement. In sy staatsrede het die president die regering se vasberadenheid herbevestig om saam met tradisionele leiers te werk met die instelling van plaaslike ontwikkelingsprogramme. Die presidensie sê Ramaphosa het die regering se samewerking met die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers herbevestig as ‘n belangrike manier om werk te skep, armoede te verlig en die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter.
# Die MK-party het aangekondig die eerste Jacob Zuma-lesing vind op 12 April plaas by die Sandton Konvensiesentrum in Gauteng, ter viering van die oudpresident se verjaardag. Volgens die party het die lesing ten doel om Zuma se bydraes tot Suid-Afrika uit te lig, as teenvoeter vir die stellings dat sy leierskapjare gemors is. Die party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, het op ‘n nuuskonferensie gesê hooggeplaastes van regoor Afrika sal die geleentheid bywoon, insluitend koningshuise, godsdienstige leiers en sakeverteenwoordigers:
# Die polisie in Limpopo het met ‘n dringende soektog begin na ‘n verdagte wat vier studente by ‘n koshuis van die Bolobedu-kollege verkrag het. Die aanval het Saterdag plaasgevind nadat ‘n man ‘n 20-jarige student voorgekeer het wat gaan water haal het. Die verdagte het waardevolle items geroof voor hy gevlug het. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê ondersoeke duur voort en vra hulp van die gemeenskap vir ‘n vinnige deurbraak:
# Die Franse president Emmanuel Macron sê enige vredesooreenkoms in Oekraïne moet sekerheidswaarborge hê om te verseker Rusland kom hierdie keer sy beloftes na. Macron het Maandag in die Withuis met Amerika se president Donald Trump vergader waar die leiers probeer het om vrede te bewerkstellig. Macron sê Europa is gereed om aan Oekraïne veiligheidswaarborge, insluitend vredesbewaarders, te verskaf indien ʼn skietstilstand bereik word. Hy waarsku teen Rusland se swak rekord om internasionale verpligtinge na te kom:
# Sokker: Manchester United sê nog sowat 200 poste kan oortollig gemaak word in ‘n poging om die klub se finansiële volhoubaarheid te verbeter en operasionale doeltreffendheid op te skerp. Verlede jaar is 250 poste geskrap. United se inkomste van Oktober tot Desember was 4,6-miljard-rand, vergeleke met 5,3-miljard die vorige jaar. Die transformasieplan sluit ook die einde in van gratis personeel-etes by Old Trafford. Die uitvoerende hoof Omar Berrada sê die plan wil die klub laat terugkeer na winsgewendheid na vyf agtereenvolgende jare van verliese sedert 2019.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-287-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-937-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-70-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….