Nuus 09:00
BULLETIN 26 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê daar is geen plek vir geweld en dwelms in skole nie
# BOSA verskaf drie name aan Ramaphosa vir oorweging as ambassadeur in Washington
# En rugby: Erasmus verwag ‘n ontsaglike toets teen die All Blacks
# Die regering veroordeel alle vorms van geweld by skole en sê dit ondermyn onderrig, veiligheid en kinders se toekoms. ‘n Gautengse skoolhoof is verlede week met ʼn mes gesteek toe sy probeer het om ʼn geveg tussen leerders van West Ridge High en Hoërskool Roodepoort te stop. In Klerksdorp, Noordwes, is talle leerders van die Hoër Tegniese Skool geskors ná ʼn video waarop hulle ʼn onderwyser aanval. ʼn Woordvoerder van die regering, Nonkululeko Mtshali, sê skole moet veilige ruimtes wees en onderwysers moet gerespekteer word:
# Build One South Africa sê hulle is steeds bekommerd oor die voortgesette afwesigheid van ‘n Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA. Die party het ‘n stel geloofwaardige kandidate vir die pos aan president Cyril Ramaphosa voorgelê. Hulle is Wamkele Mene, sekretaris-generaal van die Afrika-kontinentale vryhandelsgebied, dr. Reuel Khoza, korporatiewe bestuurskenner, en professor Mzukisi Qobo, hoof van die Wits School of Governance en lid van die President se Ekonomiese Adviesraad. BOSA sê die huidige vakuum aan die stuur van die land se sending in Washington is onhoudbaar.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê hy beskou die Emfuleni-munisipaliteit se besluit om aansoek te doen vir die afskryf van sy Eskom skuld as politiekery wat op die 2026 plaaslike regeringsverkiesing gemik is. Die plaaslike owerheid skuld die kragnutsmaatskappy agt-miljard-rand, maar na die toepassing van die skuldverligtingsprogram het die Tesourie twee-miljard-rand van die skuld afgeskryf. Nou wil hy hê dat nog twee-miljard-rand afgeskryf moet word. Gerda Senekal van die VF Plus sê Eskom se jongste staat toon dat die aanvanklike twee-miljard-rand nog nie afgeskryf is nie:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy wil die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-un ontmoet, moontlik vanjaar nog. Sedert Trump se inhuldiging in Januarie het Kim die Amerikaanse president se herhaalde oproepe geïgnoreer vir die herlewing van direkte diplomasie wat hy tydens sy 2017-2021-termyn in die amp nagestreef het. Dit het egter geen ooreenkoms opgelewer om Noord-Korea se kernprogram te stop nie. Trump, wat Kim drie keer in sy eerste termyn ontmoet het, het sy verhouding met die totalitêre leier geprys en gesê hy ken hom beter as enigiemand anders:
# Rugby: Die Springbokke se afrigter, Rassie Erasmus sê hulle is onder geen illusie oor die geweldige uitdaging wat op hulle teen die All Blacks in Nieu-Seeland wag nie. Suid-Afrika kom op 6 September teen die All Backs op Edenpark te staan, voor hulle ‘n week later in Wellington weer sake uitspook. Die Bokke se afrigter het ‘n groep van 36 spelers vir die twee toetse saamgestel en byna die hele span behou wat in die twee openingsrondes van die Rugby Kampioenskap teen Australië gespeel het. Erasmus sê elke toets teen die All Blacks is epies, gegewe die wedywering tussen die spanne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-121-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-375-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….