Nuus 09:00
BULLETIN 18 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê minister Godongwana moet ‘n basiese inkomstetoelaag instel
# Tshwane veroordeel ‘n gewelddadige aanranding by ‘n gewilde Pretoriase nagklub
# En die VN sê ‘n skikking moet die soewereiniteit en onafhanklikheid van Oekraïne onderskryf
# Die GOOD-party sê die instelling van ‘n basiese inkomstetoelaag moet die nommer-een-prioriteit in die minister van Finansies, Enog Godongwana se begrotingstoespraak môre wees. Ekonomiese navorsing wat die party byna twee jaar gelede gedoen het, toon die land kan ‘n 999-rand basiese inkomstetoelaag bekostig as hy sy begrotingsbenadering verander. Die sekretaris-generaal van die GOOD-party, Brett Herron, sê Suid-Afrika is grondwetlik verplig en kan nie langer bekostig om nie ‘n basiese inkomstetoelaag in te stel teen ‘n bedrag wat voldoende is vir burgers om hulleself te voed nie:
Zero Carbon Charge versoek op sy beurt die minister om môre in sy begrotingsrede voorkeur te gee aan koolstofverminderingsteikens. Die sonkrag-gedrewe laaistasieverskaffer vra finansiële aansporings om gebruik van elektriese voertuie te bevorder en herlaai-infrastruktuur te ontwikkel wat nie op die netwerk is nie. Joubert Roux van die organisasie vra ‘n koolstofkrediet-handelstelsel om belegging in skoon energie te bevorder en Suid-Afrika te help om sy netto-nul vervoerdoelwitte te bereik:
# Die Stad Tshwane het die gewelddadige aanranding op klante by die gewilde Pretoriase nagklub, Zanzou, ten sterkste veroordeel. Video’s wat soos ʼn veldbrand versprei, toon hoe ʼn groep mans by die klub gemartel en seksueel aangerand word omdat hulle na bewering selfone gesteel het. Zanzou sê in ʼn verklaring die saak is onmiddellik ondersoek en die betrokke sekerheidswag is afgedank. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, sê sulke geweld het geen plek in die samelewing nie:
# Die Verenigde Nasies sê enige vredesooreenkoms in Oekraïne moet die land se soewereiniteit, onafhanklikheid en gebiedsintegriteit onder internasionale reg respekteer. Europese leiers het Maandag in Parys noodsamesprekings gevoer terwyl Amerikaanse en Russiese amptenare gereed maak om vandag in Saoedi-Arabië te vergader om die einde van die oorlog in Oekraïne te bespreek, maar wel sonder Europese of Oekraïne se betrokkenheid. Die VN sê hy verwelkom alle opregte pogings en inisiatiewe wat die uitwerking van die oorlog op burgerlikes sal verlig en die konflik sal beëindig.
# Sokker: Die verdedigende kampioene Orlando Pirates kom ‘in Maart teen SuperSport United in die kwarteindronde van die Nedbankbeker te staan. Die Buccaneers gaan probeer om vir ‘n derde agtereenvolgende keer die trofee in te palm. Kaizer Chiefs wat mik na hulle eerste trofee sedert 2015, pak Stellenbosch FC terwyl Durban City vir Marumo Gallants die stryd aansê. Intussen is Mamelodi Sundowns se teenstander nog nie bevestig nie want die laaste 32-ronde kragmeting tussen Royal AM en Milford FC moet nog gespeel word. Die wenner van dié wedstryd kom teen Sekhukhune United in die ronde van 16 te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-159-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-908-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….