Nuus 09:00
BULLETIN 17 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die onvoldoende omheining van die land se tronke
# Die ANC veroordeel die moord op ‘n gay imam
# En Gautrein is tussen Parkstasie en Rosebank opgeskort oor onwettige boorwerk
# Die DA sê hy is bekommerd omdat byna die helfte van Suid-Afrikaanse tronke nie voldoende grensheinings het nie. Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het in antwoord op ‘n parlementêre vraag gesê sowat een-miljard-rand is nodig om grensheinings by 120 tronke landwyd op te knap. Kabelo Kgobisa-Ngcaba van die DA sê die gebrek aan spesifieke datums vir voltooiing van hierdie projekte, wat aan befondsing toegeskryf word, wek ernstige kommer:
# Die ANC sê hy is woedend oor die moord op imam Muhsin Hendricks, ʼn gerespekteerde godsdiensleier en kampvegter vir menseregte. Die 58-jarige Hendricks wat dikwels beskryf is as die wêreld se eerste openlik gay imam, is Saterdag in Bethelsdorp by Gqeberha in die Oos-Kaap doodgeskiet. Hendricks was die stigter van die Inner Circle en in 2011 het hy die LGBTQ+ inklusiewe Masjidul Ghurbaah-moskee gestig. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê Hendricks het sy lewe daaraan gewy om inklusiwiteit te bevorder:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die skade aan Gautrein-infrastruktuur sterk veroordeel en waarsku diegene wat daarvoor verantwoordelik is, dat hulle die gevolge sal dra. Dit volg nadat onwettige boorbedrywighede op privaat grond bokant ʼn gedeelte van die tonnel veroorsaak het dat grond en water daarin lek. Dit het die naweek Gautrein-dienste tussen Parkstasie en Rosebank ontwrig. Gautrein se woordvoerder, Albi Modise, sê treindienste tussen die twee stasies bly opgeskort terwyl hulle die skade herstel:
# Rugby: Die voorspelers Catha Jacobs en Lerato Makua het by die Springbok-vroue se oefenkamp by die Stellenbosch Sportakademie in die Wes-Kaap aangesluit. Jacobs, wat in 19 toetse uitgedraf het, is in die laaste herstelfase ná ʼn dyspierbesering, terwyl Makua volkome herstel het na ʼn knie-operasie verlede jaar. Dis die vierde oefenkamp hierdie jaar terwyl die span voorberei vir die Wêreldbeker wat in Augustus in Engeland plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-271-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-58-sent per vat.
# En ter afsluiting, Edward Berger se Vatikaan-riller, Conclave, het vier BAFTA-filmtoekennings ingepalm, insluitend beste fliek en uitstaande Britse fliek. Dit is die eerste keer sedert 2019 dat ‘n fliek albei toekennings in een jaar wen. Dit is ook bekroon vir beste aangepaste draaiboek en redigering. The Brutalist, oor ‘n Hongaarse modernistiese argitek in die na-oorlogse Amerika, het vier toekennings opgeraap, insluitend beste regisseur vir Brady Corbet, en beste hoofrolspeler vir Adrien Brody. Mikey Madison is aangewys as die beste aktrise in ‘n hoofrol vir Anora. Emilia Peréz was die beste vreemdtalige film, met Zoe Saldaña as beste ondersteunende aktrise.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….