Nuus 09:00
BULLETIN 14 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa woon die Afrika Unie se vergadering van Staats- en Regeringshoofde by
# Die parlementêre komitee vir Hoër Onderwys is bekommerd oor die bestuur van die Nasionale Vaardigheidsfonds
# En tennis: Swiatek is steeds op koers vir ‘n vierde agtereenvolgende Katar-opetitel
# President Cyril Ramaphosa reis die naweek na Addis Abeba in Ethiopië vir die 38ste gewone sitting van die Vergadering van Staats- en Regeringshoofde van die Afrika-unie. Die AU se tema vir dié jaar is Geregtigheid vir Afrikane en Mense van Afrika-afkoms deur Reparasies. Ramaphosa sê die vergadering vind op ‘n kritieke tydstip plaas omdat Afrika-lande voor ernstige uitdagings staan:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het kommer uitgespreek oor die voortslepende verval by die Nasionale Vaardigheidsfonds en sê die instelling is nie besig om sy stelselprobleme op te los nie. Die fonds het in die 2023/2024-boekjaar 3,7-miljard-rand onderbestee. Die komitee se voorsitter, Tebogo Letsie, sê die onderbesteding is te wyte aan die land se hoë werkloosheidsyfer onder die jeug. Hy voeg by dis duidelik dat die fonds swak toegerus is om ‘n betekenisvolle bydrae te lewer om die land se gebrek aan vaardighede te hanteer.
# Die verpleegingsorganisasie Denosa in Gauteng waarsku oor verskeie uitdagings waarmee die Tembisa-hospitaal te kampe het. Dit sluit in dat hulle met minder as die helfte van die benodigde personeel funksioneer, werksomstansdighede wat agteruit gaan, en geen permanente uitvoerende hoof vir meer as twee jaar nie. Bongani Banda van Denosa sê die krisis strook met wyer provinsiale gesondheidsorg-uitdagings. Hy vra dringende personeelwerwing, verbeterde werksomstandighede en die permanente aanstelling van gemeenskapsdiens-verpleegkundiges en dokters:
# Die GOOD-party sê die DA-geleide regering in die Wes-Kaap misluk met die aanspreek van die kultuur van bendes op die Kaapse Vlakte. Sewe mense is dié week binne die bestek van twaalf uur doodgeskiet in afsonderlike voorvalle in Kaapstad, wat vermoedelik met bendes verband hou. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê die premier Alan Winde en burgemeester Geordin Hill-Lewis moet hulle volledige planne verduidelik om die Kaapse Vlakte reg te ruk:
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen Iga Swiatek is steeds op koers vir ‘n vierde agtereenvolgende Katar-opetitel in Doha nadat sy seker gemaak het van ‘n plek in die halfeindstryd. Die wêreld se nommer twee van Pole het Elena Rybakina van Kazakstan met 6-2, 7-5 geklop, vir haar 15de agtereenvolgende oorwinning op die toernooi. Swiatek kom in die halfeindstryd te staan teen Jelena Ostapenko van Letland, nadat sy die Tunisiese speler Ons Jabeur met 6-2, 6-2 kafgedraf het. In die ander halfeind pak die Ekaterina Alexandrova van Rusland, wat tans goed speel, die Amerikaner Amanda Anisimova.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-909-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-925-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-67-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….