Nuus 09:00
BULLETIN 13 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie sê die instellings wat korrupsie bekamp, moet versterk word
# Standard Bank sê die aanbieding van die G20-beraad is ‘n belangrike sakegeleentheid
# En bemiddelaars probeer die Israel/Hamas-skietstilstand-ooreenkoms red
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê om die staat doeltreffend van korrupsie te suiwer, moet die instellings wat dit beveg, versterk word. Die Spesiale Ondersoekeenheid het die staatskas in die 2023/2024-boekjaar sowat agt-miljard gespaar. Die eenheid het deur die Spesiale Tribunaal en Hooggeregshof ook kontrakte van meer as 2-miljard-rand tersyde gestel. Kubayi sê die regering moet ontslae raak van alle korrupte praktyke sodat ‘n etiese en bevoegde ontwikkelingstaat geskep kan word.
# Standard Bank sê Suid-Afrika se rol as gasheer van die 2025 G20-beraad en sy gepaardgaande B20-beraad bied ʼn goeie sakegeleentheid. Suid-Afrika het die G20-presidentskap in Desember 2024 ontvang en die eerste Afrikaland geword wat die presidentskap van die wêreld se grootste groepering vir ekonomiese samewerking beklee. Oscar Siziba van Standard Bank sê die B20-beraad, die G20 se amptelike skakelforum met die privaat sektor, sal ʼn platform bied vir leiers in dié sektor om wêreld- ekonomiese beleid te beïnvloed wat sakevriendelike hervormings aandryf:
# ActionSA in Johannesburg sê departemente vir kritieke dienslewering in die metro sukkel weens onvoldoende kantoortoerusting, maar noodsaaklike bates staan in Braamfontein en verval, of word gesteel of gevandaliseer. Al die departemente van die metro het verlede jaar hul kantoortoerusting agtergelaat toe die middestad weens veiligheidsredes ontruim is. Dit sluit in meubels, kopieerders en IT-toerusting. Sarah Wissler van ActionSA sê regering en hulpbronbestuur het klaaglik misluk.
# Die bemiddelaars in die Israel/Hamas-konflik – Egipte en Katar – het diplomatieke gesprekke verskerp om die skietstakingsooreenkoms tussen die twee groepe te red. Die ooreenkoms loop gevaar om te misluk nadat Hamas Maandag aangekondig het hy gaan die vrylating van die volgende groep gyselaars uitstel. Hulle beweer Israel het die ooreenkoms geskend. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê as Hamas nie die gyselaars teen Saterdagmiddag vrygelaat het nie, sal die skietstaking eindig. Die bemiddelaars vra altwee partye om die ooreenkoms na te kom.
# Sokker: Liverpool het sy kans verbrou om met nege boaan die tabel van die Engelse Premierliga te eindig toe hy en Everton op Goodison-park gelykop geëindig het met twee-elk. Beto het Everton gou laat voorloop, maar die Reds het dadelik ‘n gelykmaker van Alexis Mac Allister aangeteken. Mohamed Salah se oënskynlike wendoel vir Liverpool was van korte duur en James Tarkowski het dit in die 98ste minuut gelykgemaak. David Moyes van Everton sê dit was ‘n interessante Merseyside-derby:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-237-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….