Nuus 09:00
BULLETIN 25 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Weermag sê generaal Rudzani Maphwanya het nie die minister se bevele verontagsaam nie
# GIWUSA sê die nasionalisering van die bankkartel kan randmanipulasie stop
# En krieket: Australië wen die derde eendagwedstryd teen die Proteas en vermy ‘n skoonskip
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het bewerings ontken dat sy hoof, generaal Rudzani Maphwanya, die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, minag. City Press berig dat Maphwanya onderneem het om kolonel Eugene Motati weer aan te stel – teen Motshekga se bevel ingevolge die Weermag-ombudsman se bevindings. Motati is in September 2019 oneervol ontstlaan weens aantygings van seksuele teistering deur ‘n SABC-joernalis. Die woordvoerder van die weermag, Prince Tshabalala, sê die bewerings oor Maphwanya is misleidend:
# Die vakbond, Giwusa, sê die Mededingingskommissie se regsaak teen 14 plaaslike en internasionale banke wys hoe finansiële kapitaal as parasiet werksaam is. Die saak spuit uit berigte dat 28 banke na bewering tussen 2007 en 2013 saamgespan het om die rand/dollar-wisselkoers te manipuleer. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê dis ‘n regstreekse en brutale klasoorlog wat finansiële kapitaal teen die werkersklas voer:
# Die Forum vir Onafhanklike Finansiële Raadgewers doen ‘n beroep op die Stad Tshwane om sy onreëlmatige tender vir ‘n mediesefonds-makelaar terug te trek. Die metro wil ‘n onafhanklike makelaarsfirma aanstel om vir drie jaar ‘n omvattende mediesefonds-diens te lewer. Dit moet toegang tot, en die bestuur van gesondheidsorg vir sy werknemers en hul afhanklikes verbeter. Die forum se woordvoerder, Njabulo Majola, sê die tender sal bestaande makelaars onregverdig uitsluit van die diens aan hul kliënte in Tshwane se werksmag asook sy pensioenarisse:
# Krieket: Australië het gekeer dat die Proteas skoonskip maak deur hulle in die derde en laaste eendagwedstryd in Mackay, Queensland, met ʼn rekord van 276 lopies af te ransel. Travis Head, Cameron Green en Mitchell Marsh het almal honderdtalle aangeteken en die gashere het in hul 50 boulbeurte 431 vir twee aangeteken. In antwoord daarop het Cooper Connolly sy eerste vyfpaaltjie-oes ingesamel en die Proteas was op 155 almal uit. Dis Australië se grootste lopie-sege tuis in eendagwedstryde en tweede grootste in dié formaat. Suid-Afrika het die reeks met 2-1 beklink.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45 sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-58 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-780 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-33-sent per vat.
# En ter afsluiting, die bekende akademikus en joernalis professor Wilhelm Jordaan is die naweek in die ouderdom van 82 oorlede. Hy het vir meer as 30 jaar weekliks rubrieke vir Beeld, en later vir sy susterpublikasies Die Burger en Volksblad, geskryf. Jordaan het ook nagenoeg 15 boeke, waaronder akademiese boeke, en 30 sielkunde-artikels geskryf of as mede-outeur opgetree. Een daarvan is Sondesemoer, ‘n versameling van sy gewilde rubrieke wat in Beeld verskyn het. Hy is in 2003 as buitengewone professor aan die Universiteit van Pretoria se Sielkunde-departement aangestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….