Nuus 09:00
BULLETIN 7 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK Party sê die staatsrede was leeg en het niemand besiel nie
# RISE Mzansi is beïndruk met die planne wat in die staatsrede uiteengesit word
# En die SAKP sê Suid-Afrika sal nie toelaat dat Trump sy soewereiniteit ondermyn nie
# Die MK-party sê die staatsrede was teleurstellend, leeg en oninspirerend. President Cyril Ramaphosa het gisteraand in sy staatsrede gepraat oor belegging in Suid-Afrika se toekoms en om op die wêreldverhoog op te staan teen boelies. Die MK-party se adjunkpresident, John Hlophe, sê Ramaphosa moes sy toespraak begin het deur verslag te doen oor vordering met die beloftes wat hy in verlede jaar se toespraak gemaak het:
ActionSA sê ook die staatsrede was niks meer nie as ‘n herophaal van leë beloftes, witskrifte, strategieë, nuwe befondsingsmodelle en grootse planne. President Cyril Ramaphosa het die rede gisteraand in Kaapstad gelewer. Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê in plaas daarvan dat die grondliggende oorsake gekonfronteer is – korrupsie en ‘n oorgrote, ondoeltreffende staatsdiens – het Ramaphosa weer leë beloftes verkoop:
Daarteenoor sê RISE Mzansi die staatsrede was waarskynlik president Cyril Ramaphosa se sterkste tot nog toe, maar die bewys daarvan sal lê in die begroting en toepassing. As ‘n vennoot in die regering van nasionale eenheid, hoewel buite die bestuurspan, verwelkom die party die insluiting van sommige van sy voorstelle, waaronder die vooropstel van die waterinfrastruktuur volgens skaal. Die president van RISE Mzansi, Songezo Zibi, sê hulle sal Ramaphosa en sy regering steun:
# Die SAKP sê president Donald Trump se teenstand teen die Wet op die Onteiening van Grond, soos bewys deur sy misleidende en reaksionêre verklarings, ontbloot sy skynheiligheid. Trump het die regering beskuldig van die konfiskering van grond en gedreig om befondsing vir die land af te sny, hangende ‘n ondersoek. Die SAKP sê Suid-Afrika is ‘n onafhanklike land met sy eie demokratiese soewereiniteit en territoriale integriteit. Hy voeg by hy sal nie toelaat dat Trump inmeng in die land se interne sake, en sy demokratiese nasionale soewereiniteit ondermyn nie.
# Tennis: Die top-gekeurde Carlos Alcaraz het die Rotterdam Ope in Nederland se kwarteindronde gemaklik gehaal en is steeds op koers om sy eerste binnenshuise trofee op te raap. Die Spanjaard het die Italiaanse kwalifiseerder, Andrea Vavassori verslaan om sy 42ste toervlak-kwarteindronde te bereik. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het ‘n wedstrydpunt afgeweer en was ʼn stel agter, maar het teruggeveg en die Nederlander, Tallon Griekspoor geklop. Verlede jaar se naaswenner, Alex de Minaur van Australië, en die Spanjaard Pedro Martinez is ook deur.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-710-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-36-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….