Nuus 09:00
BULLETIN 3 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump sny alle toekomstige Amerikaanse befondsing aan Suid-Afrika hangende ‘n ondersoek na grondonteiening
# Gedurende die feestyd is daar beslag gelê op meer as tweeduisend vuurwapens
# En UNICEF herhaal sy oproep vir die beskerming van die kinders in Oekraïne
# Amerika se president Donald Trump sê hy sny alle toekomstige befondsing aan Suid-Afrika af tot ‘n volledige ondersoek na die land se grondonteieningsbeleid afgehandel is. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa verlede maand die Onteieningswet bekragtig het. Die wet bepaal dat die regering onder sekere omstandighede geen vergoeding hoef te betaal wanneer hy besluit om grond in openbare belang te onteien nie. Trump sê die wet is ʼn enorme menseregte-oortreding:
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê daar is tydens feestyd-operasies beslag gelê op tweeduisend-198 onwettige en ongelisensieerde vuurwapens. Optredes om die feestyd veilig te maak, het op 11 Oktober 2024 begin en tot 31 Januarie vanjaar geduur. Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sluit in eenduisend-731 handwapens, 154 tuisgemaakte wapens, 211 gewere en 102 haelgewere. Masemola sê die meeste vuurwapens is in Kwazulu-Natal, Gauteng, en die Oos- en Wes-Kaap gevind:
# ActionSA in KwaZulu-Natal sê hy is woedend oor die voortslepende tekort aan noodsaaklike medisyne by staatshospitale en -klinieke, want dit plaas duisende lewens in gevaar. Dit volg nadat die Departement van Gesondheid volgens berigte gesondheidsgeriewe ingelig het dat medisyne weens begrotingstekorte eers in April aangevul sal word. ActionSA-woordvoerder Zwakele Mncwango sê die LUR vir Gesondheid, Nomagugu Simelane, moet volle aanspreeklikheid aanvaar en onmiddellik die publiek die waarheid vertel oor die krisis:
# Die Verenigde Nasies se Kinderfonds het kommer uitgespreek oor die volgehoue aanvalle op bewoonde gebiede in Oekraïne en die vernietigende uitwerking daarvan op kinders. In Poltava is drie kinders volgens berigte in ʼn missielaanval op ʼn woongebou beseer terwyl minstens vier ander in Kramatorsk, Sumy en Synelnykove gewond is. In die eerste twee weke van Januarie het meer as een-duisend-600 mense, insluitend kinders, uit hul huise in Donetsk en Kharkiv gevlug. UNICEF sê voltydse vrede is nodig sodat kinders van oorlog kan herstel, weer kan skoolgaan en hul toekoms herbou.
# Krieket: MI Cape Town wat boaan die SA20-ranglys lê, het die Pretoria Capitals in die laaste ligawedstryd op Nuweland met 95 lopies geklop in ‘n bonuspunt-oorwinning. Sediqullah Atal met 74 en Connor Esterhuizen het 133 om die eerste paaltjie aangeteken in MI Cape Town se 201 vir 5. Die draaibouler Dane Piedt – in sy SA20-debuut – en Thomas Kaber het elk drie paaltjies geneem om die Pretoria Capitals vir 106 uit te boender. MI Cape Town speel Dinsdag in die eerste uitspeelwedstryd teen die Paarl Royals in Gqeberha.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-646-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-779-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….