Nuus 09:00
BULLETIN 31 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die repokoersverlaging as ‘n hupstoot vir ekonomiese verligting en groei
# Everest Wealth sê ‘n koersverlaging in Maart is onwaarskynlik
# En die vlugdata- en kajuitstemopnemers van Washington-lugramp is gevind
# Die ANC het die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verlaag, verwelkom. Dit bring die basiese uitleenkoers op 11-persent te staan. Die besluit was nie eenparig nie en twee van die ses lede van die monetêre beleidskomitee het gestem dat dit onveranderd bly. ‘n ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die aanpassing is nodig en bring verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings en sakeondernemings:
Everest Wealth sê intussen ten spyte van die Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers met 25-basispunte te verlaag tot 7,5-persent, wat die prima koers op elf-persent te staan bring, heers daar onsekerheid oor verdere verlagings. Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago het gewaarsku teen inflasierisiko’s, met twee lede van die Monetêrebeleidskomitee wat teenkanting oor die verlaging uitgespreek het. Riaan Grobler van Everest Wealth sê nog ‘n verlaging in Maart is moontlik, maar onwaarskynlik. Suid-Afrika se koerse het sedert September met 75-basispunte gedaal, maar is steeds hoog.
# ActionSA in Ekurhuleni sê hy is diep ontsteld dat ʼn EFF- politieke aanstelling in die munisipale speaker se kantoor nie ná sy inhegtenisneming geskors is nie. Die amptenaar is vir bedrog gearresteer nadat hy na bewering die stadsbestuurder se handtekening vervals het om befondsing te soek. Hy is tans uit op borgtog. ʼn ActionSA-woordvoerder, Siyanda Makhubo, sê daar moet onmiddellik tugstappe teen die amptenaar ingestel word:
# Die Amerikaanse Vervoerveiligheidsraad sê hulle het die vlugdata- en kajuit-stemopnemers van die vliegtuig van American Airlines gevind wat naby Washington met ‘n lugmaghelikopter gebots het. Al 67 mense aan boord van die vliegtuig en die Black Hawk-helikopter is waarskynlik dood. Die ongeluk word as die ergste lugramp sedert 2001 in Amerika bestempel. Minstens 40 liggame is uit die Potomac-rivier gehaal. Die veiligheidsraad sê ‘n voorlopige verslag oor die ongeluk sal binne 30 dae uitgereik word.
# Sokker: Manchester United het FCSB in Roemenië met twee-nul verslaan om deur te dring na die Europa-liga se laaste 16. Diogo Dalot en Kobbie Mainoo se doele in die tweede helfte het United se derde plek in die groepstadium verseker. Tottenham Hotspur is deur beserings getref, maar het Elfsborg nogtans met drie-nul verslaan terwyl Rangers met twee-een met Union Saint-Gilloise afgereken het om deur te dring na die ronde van 16. United se bestuurder, Ruben Amorim, sê die oorwinning is belangrik omdat hulle ʼn twee-been-uitspeelronde in Februarie vryspring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-506-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-795-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….