Nuus 09:00
BULLETIN 26 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra dringende regering van nasionale eenheid-dialoog met partye wat die Wet op Onteiening teenstaan
# ‘n Olifant trap ‘n toeris dood in die Krugerwildtuin
# En tennis: Keys stop Sabalenka en wen haar eerste Grand Slam
# Die leier van die DA John Steenhuisen eis dringende samesprekings met die vennote in die regering van nasionale eenheid wat die Wet op Onteiening teenstaan. Steenhuisen, meen die wet is ongrondwetlik en vra dit moet teruggestuur word na die Parlement. Hy sê die party sal hom beroep op klousule 19 van die Verklaring van Voorneme, ‘n dokument wat die DA se kernrol in die regering onderskryf. Hy waarsku teen opsyskuiwing en vra vir koalisierespek:
Die groep United Africans Transformation verwerp ook president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wetsontwerp op Onteiening, en noem dit onvoldoende vir die aanspreek van die ontneming van grond. UAT kritiseer die wet, en beweer dit plaas vergoeding bo geregtigheid. Die woordvoerder Mighty Mabule betoog die wet sluit onteienings voor 1913 uit en laat ongelykheid voortleef. Hy eis grondwetlike wysigings vir ware restitusie, en stem saam met wydverspreide beroepe op onteiening sonder vergoeding:
# ‘n Toeris is gister in die Krugerwildtuin dood nadat ‘n olifant die slagoffer naby die Krokodilrivier by die Malelane-hek bestorm en vertrap het. SANParke se hoof van Kommunikasie, JP Louw, sê beamptes was op die toneel om die familie te ondersteun. Ondersoek word nog ingestel na die oorsaak van die tragedie. Louw vra die publiek om weens die sensitiwiteit daarvan nie foto’s of video’s van die voorval en die slagoffer op sosiale media te plaas nie. SANParke het intussen sy meegevoel betuig met die familie en vriende van die oorledene.
# Die Taliban-regering het die Internasionale Geregshof se lasbrief vir die inhegtenisneming van sy leiers vir geslagsvervolging verwerp as polities gemotiveerd. Die hoofaanklaer van die hof noem die vervolging van vroue en meisies ‘n misdaad teen die mensdom. Die Taliban het teruggekap met aantygings van dubbelle standaarde en die hof aangemoedig om iets te doen oor die beweerde oorlogsmisdade deur buitelandse magte tydens die besetting van Afghanistan. Aktiviste noem die besluit ‘n geskiedkundige stap na geregtigheid vir Afghaanse vroue terwyl Geregshofregters die aansoek om die lasbrief hersien.
# En tennis: Madison Keys het teen alle verwagting Aryna Sabalenka met 6-3, 2-6, 7-5 verslaan in gister se Australiese Ope-eindstryd en spog op 29 met haar eerste Grand Slam-oorwinning. Die Amerikaner het ‘n einde gebring aan die wêreld nommer een se droom om die eerste vrou in 26 jaar te word met ‘n derde agtereenvolgende enkelspeltitel op Melbourne Park. Vir die 19de-gekeurde Keys was dit die volvoering van ‘n reis wat 15 jaar gelede as ‘n tienersensasie begin het. Keys is die vierde-oudste wenner van ‘n eerste major sedert die begin van die Oop-era in 1968.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….