Nuus 09:00
BULLETIN 20 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Onderwysaktivis sê Solidariteit en AfriForum het die reg om die BELA-wet te betwis
# Acsa probeer om ‘n ononderbroke beskikbaarheid van vliegtuigbrandstof by die OR Tambo-lughawe verseker
# En rugby: Andy van der Watt, een van die vinnigste vleuels wat nog vir die Springbokke gespeel het, is oorlede
# Die onderwys-aktivis, Hendrick Makaneta, sê dit is Solidariteit en AfriForum se volste reg om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette teen te staan. Die organisasies het met regstappe begin omdat die wet volgens hulle vorige ooreenkomste skend en kritieke aanbevelings deur die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, misken – veral wat taal- en toelatingsvereistes betref. Makaneta sê dit gaan ‘n interessante toetssaak wees indien die grondwetlikheid van die wette onder die loep kom:
# Die Bench-Marks-stigting sê die Stilfontein-tragedie in Noordwes is vererger omdat ambagsgerigte mynbou nie geformaliseer word nie. Sedert November verlede jaar is meer as 80 liggame uit ‘n skag by die Buffelsfontein-goudmyn gehaal en meer as ʼn duisend onwettige mynwerkers het na die oppervlak gekom. Die stigting sê indien ʼn regsraamwerk vir kleinskaalse myners geskep word, sal dit veiligheidstandaarde verbeter en ekonomiese geleenthede skep vir gemeenskappe wat deur grootskaalse werkloosheid geraak word.
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê hy het vir hierdie maand genoeg vliegtuigbrandstof by die OR Tambo Internasionale Lughawe en werk daaraan om enige ontwrigting in Februarie te voorkom. Dit volg ná die brand by die Nasionale Petroleum-raffineerders van Suid-Afrika se raffinadery vroeër die maand wat brandstofvervaardiging op nasionale vlak raak. Acsa sê die lughawe het tans 27,1-miljoen liter vliegtuigbrandstof beskikbaar wat genoeg is vir sowat sewe en ʼn half dae. Hy sê hy het Transnet versoek om brandstof van Durban na Gauteng te vervoer sodra ingevoerde voorraad aanland.
# Israel sê hy het 90 Palestynse gevangenes vrygelaat as deel van die skietstilstandooreenkoms met Hamas. Dit volg nadat drie gyselaars Sondag aan Israel oorhandig is as die eerste van 33 wat oor die volgende ses weke vrygelaat gaan word. Die meeste van die gevangenes is uit die Ofer-gevangenis in Ramallah vrygelaat. Die woordvoerder van die Israelse regering, David Mencer, sê die huidige skietstilstand is tydelik en hulle mag gevegte hervat indien nodig:
# Rugby: Andy van der Watt wat beskou word as die vinnigste vleuel ooit wat vir die Springbokke uitgedraf het, is Sondag by sy huis in KwaZulu-Natal dood. Hy was deel van die Springbokke se 1969-1970-demo-toer na die Verenigde Koninkryk en het in 17 van die 24 wedstryde gespeel. Dit sluit toetse teen Skotland, Engeland en Ierland in. Hy was deel van Suid-Afrika se reis na Australië in 1971, en het provinsiale rugby vir die Westelike Provinsie, Grens en Natal gespeel. Hy was net 28 toe hy in 1975 sy stewels opgehang het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-406-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-703-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….