Nuus 09:00
BULLETIN 23 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi sal die eerste getuie voor die parlementêre ad hoc-komitee wees
# Die polisie ondersoek die moord op ’n drie maande oue baba in Bonteheuwel
# En Ghislaine Maxwell ontken dat Trump of Clinton betrokke was by Epstein se misdade
# Die ad hoc-komitee wat politieke inmenging, sabotasie en kriminele infiltrasie in die SAPD ondersoek, se eerste getuie is die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die voorsitter Molapi Lekganyane het bevestig dat die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola, adjunkkommissaris Shadrack Sibiya, en die geskorste polisieminister Senzo Mchunu ook sal verskyn. Die MK-party het die insluiting van voormalige polisieminister Bheki Cele voorgestel. Lekganyane het die afsluiting teen 31 Oktober 2025 bevestig en sê streng wetlike riglyne en fluitjieblaser-beskerming sal geld:
ActionSA verwelkom intussen die aanvaarding van die verwysingsraamwerk vir die ad hoc-komitee. Die party maak egter sterk beswaar teen die speaker se nuwe protokol wat toegang tot geklassifiseerde inligting vir alternatiewe lede beperk. Matthew George van ActionSA sê dit ondermyn demokratiese toesig en hy gaan amptelik by die Parlement beswaar aanteken om die beperking te verwyder. Hy dring aan op volle deelname om aanspreeklikheid en behoorlike verteenwoordiging in die werk van die komitee te handhaaf:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens volg leidrade op nadat ‘n drie-maande-oue baba tydens ‘n skietery in Yellowwoodstraat, Bonteheuwel gesterf het. Twee gewapende mans het ‘n huis betree, die kind geskiet en ‘n volwasse vrou ernstig beseer voor hulle op die vlug geslaan het. Die polisie vermoed bendebetrokkenheid. Die Bishop Lavis Misdaadvoorkomingsforum doen ‘n beroep op sterker ingrypings om geweld te bekamp. Ondersoeke duur voort en owerhede vra enigiemand met inligting om na vore te kom om te help om die verdagtes aan te keer.
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het transkripsies en klankopnames van sy Julie-onderhoud met Ghislaine Maxwell vrygestel. Sy dien tronkstraf van 20 jaar uit omdat sy die oorlede finansier Jeffrey Epstein gehelp het om jong meisies te misbruik. Maxwell sê sy het Trump nog nooit in enige onvanpaste omstandighede gesien nie, en oudpresident Bill Clinton was nooit ‘n kliënt van Epstein se masseuses nie. Die onderhoude is gevoer deur die Departement van Justisie se prokureur, Todd Blanche, wat voorheen Trump se persoonlike prokureur was. Daar is toenemend druk deur Trump se Republikeine vir meer deursigtigheid rondom die ondersoek na Epstein.
# En sportnuus:
# Rugby: Die Springbok-vroue begin Sondag hulle Wêreldbekerveldtog teen Brasilië in Northampton, England. Die afrigter van die Bokke, Swys de Bruin, het ‘n ervare groep gekies en verwag ‘n vasberade, berekende benadering van sy spelers teen die Suid-Amerikaners, wat vir die eerste keer in die Wêreldbeker speel. Hy sê die Bokke sal hou by hulle speelstyl en hy hoop vir ‘n goeie begin vir die toernooi. Suid-Afrika speel ook teen Frankryk en Italië in Groep D. Die wedstryd skop om 3.45 nm af.
# En krieket: Wedstryde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi is uit die Indiese stad Bengaluru verskuif na die dodelike oorwinningsparade vir die Indiese Premierliga-kampioen, Royal Challengers Bengaluru, in Junie. Honderde-duisende aanhangers het die viering bygewoon waartydens elf mense doodgetrap en sowat 50 beseer is. Die Internasionale Krieketraad skryf die besluit toe aan onvoorsiene omstandighede, maar plaaslike media berig die polisie het toestemming geweier vir groot wedstryde op die stadion. Die toernooi begin op 30 September.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….