Nuus 09:00
BULLETIN 19 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Defend our Democracy steun die oproep vir ‘n ondersoek na die Stilfontein onwettige mynwerkers
# Die GOOD-party vra Kaapstad om met bedryfsleiers te skakel oor sy toetsprotokol by strande
# En, krieket: Paarl Royals se kolwers blink uit met ‘n rekord SA20-prestasie teen Pretoria Capitals
# Defend our Democracy sê hy steun die oproep vir ‘n ondersoek na opsetlike nalatigheid wat uitgeloop het op onwettige mynwerkers wat aan uithongering dood is by die Buffelsfontein-mynskag in Stilfontein in Noordwes. Die woordvoerder Andries Sibanyoni sê 78 liggame is na die oppervlak gebring nadat ‘n hof ‘n reddingsoperasie beveel het, en nog 246 mense is lewend aangetref. Hy sê die reg tot lewe, wat in die Grondwet gewaarborg word, ongeag iemand se nasionaliteit of regstatus, is geskend:
In nog ‘n verwikkeling vra die organisasie Healthcare Workers 4 Palestine in Suid-Afrika die regering om die geredde Stilfontein-mynwerkers voldoende mediese aandag te gee. Baie van die myners wat oorleef het, is brandmaer en chronies ongesteld weens langdurige wanvoeding, ontwatering en talle aansteeklike siektes wat hulle sê vererger is deur die onlangse polisie-optrede. Healthcare Workers 4 Palestine sê hervoedingsindroom, wat ‘n sterftesyfer het van 35- tot 70-persent, is ‘n ernstige en moontlik dodelike bekommernis onder die myners.
# Die GOOD-party vra die Stad Kaapstad om saam te werk met bedryfsleiers, akademici, mediese dokters en mariene bioloë oor die toetsprotokol by die stad se strande. GOOD se nasionale jeugvoorsitter, Kaden Arguile, sê volgens die Projek Blou-verslag was daar op die Blouvlagstrande by Kampsbaai en Clifton kommerwekkende vlakke van enterokokkus-besmetting tydens die feesseisoen. Hy sê die ondersoek laat kommer ontstaan oor die stad se rioolbehandelingsprotokol, -regulasies en -monitering:
# Krieket: Joe Root en David Miller het Paarl Royals gister in Centurion aangevoer tot ‘n agt-paaltjie SA20-oorwinning oor Pretoria Capitals. Die besoekers moes die gashere se totaal van 213 oortref. Root het 92 gemoker van net 60 balle, met Miller wat gesorg het vir 48 van 24 balle af. Rubin Hermann se 56 van 33 balle het die knoop deurgehak vir Paarl Royals, met net twee balle oor. En gisteraand op Nuweland het MI Cape Town die Johannesburg Super Kings met sewe paaltjies geklop met ‘hulle ‘n telling van 173 vir 3, met 25 balle oor, teenoor die besoekers se totaal van 172 vir 5.
# En, die verkose Amerikaanse president Donald Trump sê hy sal heelwaarskynlik TikTok 90-dae verligting gee van ‘n moontlike verbod wanneer hy Maandag sy ampstermyn begin. Die meer as 170-milljoen Amerikaanse gebruikers van die toepassing is erg senuagtig voor ‘n moontlike afsluiting. Die toepassing in Chinese besit het Vrydag gesê duisternis wag vandag op Amerikaanse gebruikers as president Joe Biden se administrasie nie maatskappye soos Apple en Google die versekering gee hulle sal nie te doen kry met afdwinging wanneer die verbod in werking tree nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….