Nuus 09:00
BULLETIN 16 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Netanyahu en Hamas verwelkom die tydelike skietstilstand-ooreenkoms
# Nehawu ondersteun minister Motsoaledi in sy verdediging van die NGV-wet
# En die SAKP sê die regering moet ophou om die nasionale nywerheidsbasis te ondergrawe
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy het met Amerikaanse president Joe Biden en gekose president Donald Trump gepraat en hulle bedank vir hul hulp om die skietstilstand-ooreenkoms te bereik. Tydens die skietstilstand wat Sondag begin, sal gyselaars en Palestynse gevangenes in fases vrygelaat word. Hamas se hoofonderhandelaar, Khalil al-Hayya, sê die ooreenkoms is ‘n mylpaal in die konflik met die vyand. Katar se eerste minister, Mohammed bin Abdulrahman Al Thani, sê daar was geen druk van die inkomende Trump-administrasie om ʼn ooreenkoms te bereik nie:
# Die vakbond, Nehawu, sê hy ondersteun die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, se verdediging van die volle Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Dit volg ná ʼn artikel in City Press waarin berig word die ANC gaan by die eerste kabinet-lekgotla ʼn kompromie-voorstel ter tafel lê oor die NGV se instelling. Dit is glo om vennote in die regering van nasionale eenheid tevrede te stel. Nehawu-woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê hierdie bewerings word gemaak om die volle instelling van die NGV-wet te ontspoor:
# Die SAKP het sy oproep herhaal dat die staat moet ingryp om, wat hy beskryf as die erosie van die nasionale nywerheidsbasis en vervaardiging, te keer. Dit volg nadat ArcelorMittal SA aangekondig het hy gaan sy langstaal-onderneming, insluitend sy aanlegte by Newcastle en Vereeniging, en sy spoor- en strukture-operasie sluit. Dit sal regstreeks en onregstreeks tot die verlies van drie-duisend-500 werksgeleenthede lei. Die SAKP sê regeringsingryping moet die moontlike oordrag van eienaarskap of regstreekse oorname van die geraakte produktiewe vermoë van AMSA insluit.
# Die Tshwane-busdiens het sy normale dienste amptelik hervat te midde van ʼn tekort aan busbestuurders. Dertig bestuurders is in November verlede jaar afgedank nadat hulle in Mei aan ʼn onwettige staking deelgeneem het. Die besluit om die bestuurders af te dank, is ná ʼn tugverhoor geneem. Die Stad Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die werwingsproses om die poste te vul is tans aan die gang en sal so gou moontlik afgehandel word:
# Sokker: Arsenal het hul hoop lewend gehou in die Premierliga met ‘n oorwinning van twee-een oor Tottenham Hotspur om in die tweede plek in te skuif, vier punte agter Liverpool wat eerste is. Spurs se kaptein, Heung-Min Son, het hulle laat voorloop, maar ‘n eie doel deur Dominic Solanke en ‘n doel deur Leandro Trossard het die bordjies vir die Gunners verhang. Newcastle United het drie-nul met Wolverhampton Wanderers klaargespeel vir hul sesde sege in ‘n ry in die liga, terwyl Crystal Palace vir Leicester City twee-een geklop het. Aston Villa moes het Everton een-nul getroef.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80X-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-580-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-697-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-31sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….