Nuus 09:00
BULLETIN 10 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Naptosa vra vir ondersoek na ongekwalifiseerde onderwysers in Suid-Afrikaanse skole
# Die DA doen ‘n beroep op ouers om die instapsentrums vir dringende skoolplasings te gebruik
# En die voormalige Skotland-rugbykaptein Stuart Hogg word gevonnis vir die mishandeling van sy vervreemde vrou
# Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika, Naptosa, doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders om die beweerde toename in ongekwalifiseerde onderwysers wat by skole werk, te ondersoek. Dit volg na die Stigting vir Onderwys en Maatskaplike Geregtigheid in Afrika onthul het dat hy ‘n kommerwekkende aantal verslae ontvang het van onder- en ongekwalifiseerde onderwysers, insluitend studente, wat in onderwysposte by sommige privaatskole regoor die land aangestel is. Naptosa se uitvoerende direkteur, Basil Manuel, het aan Newzroom Afrika gesê ouers moet skole verantwoordelik hou:
# Airlink het vlugte na Nampula in Mosambiek hervat nadat die roete opgeskort is weens dreigemente oor die beslaglegging op vliegtuie ingevolge ‘n plaaslike hofbevel. Airlink se uitvoerende hoof, Rodger Foster, sê die regsgeding spruit uit ‘n skadevergoedingseis wat twee passasiers ingedien het nadat hul verwyder is weens wanordelike gedrag. Die lugredery hanteer 70-persent van die lugverkeer tussen die twee lande. Hy sê nadat versekering verkry is van Mosambiekse en Suid-Afrikaanse owerhede, het Airlink sy diens hervat en monitor die situasie.
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op alle ouers wie se kinders nog nie in skole geplaas is nie om van die provinsiale Departement van Onderwys se instapsentrums gebruik te maak. Die departement het die aanlynplasing-spertyd vir Grade 1 en 8 tot die 30ste van die maand verleng. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê hoewel die uitstel effense verligting vir ouers en voogde kan bring, beklemtoon dit die voortdurende kwessies wat die provinsie se onderwysstelsel teister:
# Amerika se president Joe Biden sê die federale regering verhoog sy hulpleniging ná die vernietigende brande in Los Angeles tot 100-persent. Dit volg nadat Kalifornië se goewerneur, Gavin Newsom, die president gevra het om die goedgekeurde befondsing tot 90-persent op te stoot. Die dodetal het tot sewe gestyg en weervoorspellers waarsku nog sterk wind kan die vlamme verder aanblaas. Biden sê die federale regering doen alles moontlik om dié wat geraak word, te help:
# Die voormalige kaptein van die Skotse rugbyspan, Stuart Hogg, het tronkstraf vrygespring en is tot een jaar toesig gevonnis, nadat hy erken het hy het sy vervreemde vrou oor ‘n tydperk van vyf jaar mishandel. Die 32-jarige Hogg speel nou vir die Franse klub, Montpellier, en het erken hy het geskree en gevloek, Gillian Hogg se bewegings dopgehou en boodskappe met ʼn skokkende en ontstellende strekking aan haar gestuur. Die vonnisoplegging sluit ‘n nie-teisteringsbevel in wat Hogg verbied om Gillian Hogg vir vyf jaar te nader of kontak te maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-590-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-673-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….