Nuus 09:00
BULLETIN 7 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die BELA-wet moet sonder versuim in werking gestel word
# ‘n Bioinformatika-spesialis sê die metapneumovirus-uitbreking in China is nie ‘n bedreiging vir Suid-Afrika nie
# En, ‘n Amerikaanse winterstorm eis ten minste vyf lewens
# Die EFF sê skole begin volgende Woensdag, daarom moet die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette dadelik ingestel word. President Cyril Ramaphosa het die wet verlede maand in sy geheel bekragtig na ‘n tydperk van drie maande om oor twee omstrede klousules oor taal- en toelatingsbeleid te onderhandel. Volgens die EFF sal die klousules keer dat skoolbeheerliggame toegangs- en taalbeleid gebruik om rassistiese enklaves in skole te skep.
# ‘n Bioinformatika-spesialis aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Tulio de Oliveira, het die versekering gegee die menslike meta-longvirus in China hou geen onmiddellike bedreiging in vir Suid-Afrikaners nie. De Oliveira het in gesprek met eNCA verduidelik die virus vorm deel van China se winter-siektes en is nie verwant aan Suid-Afrika se huidige toestande nie. Hy het verduidelik die virus veroorsaak matige respiratoriese siektes, maar dit kan tot ernstige komplikasies lei:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gaan vandag die Generaal De la Rey-hospitaal in Lichtenburg in die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes besoek nadat oorstromings daar voorgekom het. ‘n Stormwaterstelsel kon nie water van die hospitaal af weglei nie. Die hospitaal is een van drie instellings in die provinsie wat oorstroom is. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die Generaal De la Rey-hospitaal is tydelik gesluit en pasiënte is na ander hospitale verskuif:
# Minstens vyf mense is dood in ʼn winterstorm wat swaar sneeu, ys, sterk wind en temperature onder vriespunt in dele van Amerika veroorsaak het. Noodtoestande is in Maryland, Virginië, Wes-Virginië, Kansas, Missouri, Kentucky en Arkansas afgekondig. Die storm het veroorsaak dat skole moes sluit, kragonderbrekings voorkom en meer as tweeduisend vlugte gekanselleer is. The Guardian berig die ysige weer word toegeskryf aan versteurings in die pool-vorteks wat ʼn groot, driedimensionele sirkel sterk winde is.
# Sokker: Nottingham Forest het hulle sesde agtereenvolgende oorwinning behaal toe hulle Wolves by Molineux met drie-nul verslaan het, en nou ewe veel punte het as Arsenal wat tweede is in die Premierliga. Doele deur Morgan Gibbs-White, Chris Wood en Taiwo Awoniyi het die oorwinning aan Nuno Espirito Santo se span besorg wat nou ses punte agter die voorlopers van Liverpool is. Dis die eerste keer in 58 jaar dat Forest ses agtereenvolgende topwedstryde in dieselfde seisoen wen. Espirito Santo sê dit was ʼn taai wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-841-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-637dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….