Nuus 09:00
BULLETIN 2 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Onderwysaktivis vra die Parlement moet aandag gee aan die beplande besnoeiing van Wes-Kaapse onderwysposte
# Giwusa waarsku dat Januarie se brandstofverhoging die werkersklas se las sal vererger
# En, Die New Orleans-aanvaller is geïdentifiseer as ‘n Amerikaanse burger en ‘n weermagveteraan
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta moedig die Parlement aan aandag te gee aan die beplande besnoeiing van twee-duisend-407 onderwysposte in die Wes-Kaap. Hy maan dit kan lei tot groter klasse en ontwrigte leerwerk. Makaneta vra die portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys om in te gryp en eis openbare samesprekings om die toekoms van leerders en die gehalte van onderwys te beskerm:
# Die vakbond Giwusa veroordeel die brandstofverhogings vir Januarie. Die woordvoerder, Koketso Phasha, sê dit sal meer spanning vir die werkersklas veroorsaak, te midde van al die ekonomiese uitdagings. Die petrolprys sal met 12- tot 19-sent per-liter styg en diesel met 7,5- tot 10,5-sent per-liter, maar lampolie se prys het gister met 9,5-sent gedaal. Phasha vra die regering om in te gryp, ook met brandstofsubsidies:
# Negentig mense, insluitend babas, is dakloos gelaat toe ‘n brand op Oujaarsaand nagenoeg 20 woonstrukture in ‘n informele nedersetting in Stellenbosch verwoes het. Die brand het drie ure vóór middernag in Kayamandi uitgebreek, waarna ‘n brandweerspan bykans twee ure geneem het om dit te blus. Inwoners maak nou staat op humanitêre hulp van die Gift of the Givers-stigting en die Stellenbosch-munisipaliteit. Bystand is intussen versoek vir skoolklere en skryfbenodigdhede wat in die brand vernietig is. Baie van die mense het hul stokvelgeld gebruik skoolbenodigdhede vir hul kinders te koop.
# Die verdagte in die noodlottige Nuwejaarsaanval in New Orleans het in ‘n reeks videos uiteengesit hoe hy beplan het om sy gesin te vermoor en in drome geïnspireer is om by ISIS aan te sluit. Vyftien mense is in die aanval dood en tientalle beseer. Die 42-jarige man wat in Bourbonstraat met ‘n bakkie tussen partytjiegangers ingejaag het, het volgens die polisie glo die stemopnames gemaak onderweg van sy huis in Texas na Louisiana. Shamsud-Din Jabbar was ‘n Amerikaanse burger en weermagveteraan wat in Afghanistan diens gedoen het
# Rugby: Die wêreld se voorste verskaffer van rugby-oefentoerusting, Rhino, het ‘n vennootskap van sewe jaar met SA Rugby gesluit. Rhino sal balle vir die Springbokmans- en -vrouespanne se internasionale wedstryde en al die plaaslike kompetisies verskaf. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê hulle is opgewonde oor wat die volgende sewe jaar gaan oplewer deur die nuwe vennootskap. Rhino is ook Asië Rugby en Rugby Europa se amptelike balverskaffer, wat 80-persent van die rugbyspelende lande verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-318-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-634-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….