Nuus 09:00
BULLETIN 31 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad berei voor vir besige Nuwejaarsvieringe
# Gauteng vra waaksaamheid te midde van beskadiging van straatligte en verkeerstekens
# En, krieket: Nog ‘n oorwinning vir Australië oor Indië sal sy plek in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap beklink
# Die wetstoepassingspanne van die Stad Kaapstad is slaggereed vir Oujaarsaand, met meer as 35-duisend mense wat by die vuurwerkvertoning by die Waterkant verwag word. Die Stad waarsku vuurwerke sonder ’n permit is verbode. Boonop word motoriste gewaarsku oor moontlike opeenhopings op paaie. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, doen ‘n beroep op inwoners om verantwoordelik te vier:
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, versoek padgebruikers om hulle oё oop te hou vir die opsetlike beskadiging van straatligte en die toenemende voorkoms van skerp penne in hoёrisikogebiede. Dit volg op onlangse voorvalle langs die R24 naby die OR Tambo-internasionale lughawe. Die LUR se woordvoerder, Lesiba Mpya, bevestig pad-instandhoudingspanne is slaggereed vir enige probleme met infrastruktuur:
# Die Patriotic Alliance gaan ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie indien teen ‘n werknemer van die SABC, Nobuntu Mkhize, oor haar beweerde rassistiese opmerkings tydens ‘n vlug van FlySafair. Die PA se onderleier, Kenny Kunene, het haar opmerkings veroordeel en sê haar optrede beklemtoon die gevaar van onbeheerde voorregte. Sy het skynbaar haar status as die dogter van haar oorlede pa, Khaba Mkhize, gebruik om personeellede te beledig. Kunene vra die SABC vir sterk optrede.
# Vyf mense word aangekla na die dood van die Britse sanger Liam Payne in Argentinië. Die voormalige lid van One Direction het hom in Oktober doodgeval van ‘n hotelbalkon in Buenos Aires. ‘n Vriend van die 31-jarige Payne, Roger Nores, die hotelbestuurder en die ontvangsdame word van manslag aangekla, terwyl twee ander werknemers beskuldig word dat hulle kokaïen aan die sanger voorsien het. Nores word daarvan beskuldig dat hy versuim het om sorg, bystand en hulp aan sy vriend te verskaf, wetende dat hy aan verskeie middels verslaaf was.
# Krieket: Suid-Afrika se teenstander in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap op Lord’s in Junie, kan een van drie spanne wees. As Australië ook die vyfde en laaste toets teen Indië wen wat Vrydag in Sydney begin, sal hy die tweede posisie inneem. As Indië op die SCG wen, sal hy steeds ‘n aanspraak hê, terwyl ‘n onbesliste uitslag Sri Lanka nog ‘n kans sal gee. Die komende reeks tussen Australië en Sri Lanka kan steeds belangrik wees, afhangend van die uitslag in Sydney.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-472-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-604-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-47-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….