Nuus 09:00
BULLETIN 28 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê die strategiese gebruik van spitsstasies bly die sleutel tot die bestuur van die vraag na elektrisiteit
# Die VN se sekretaris-generaal vra kalmte in Mosambiek te midde van na-verkiesingsgeweld
# En rugby: Die Stormers en die Haaie pak mekaar vandag in Kaapstad in ‘n VRK-kusderbie
# Eskom sê sy strategiese gebruik van spitsstasies, waaronder gepompte berging en oopsiklus-gasturbines, bly die sleutel tot die bestuur van die vraag na elektrisiteit tydens spitstye, veral saans. Woordvoerder Daphne Mokwena sê die onbeplande vermoënsverliesfaktor staan op 24,92-persent vir die boekjaar tot op datum, wat ‘n verbetering is vanaf die 32,97-persent in die ooreenstemmende tyd verlede jaar:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Naies, António Guterres, het kommer uitgespraak oor die na-verkiesingsgeweld in Mosambiek. Hy het politieke leiers na die Grondwetlike Raad se bevestiging van die verkiesingsuitslae aangemoedig om die spanning te ontlont deur dialoog en regskanale. Woordvoerder Stephanie Tremblay sê Guterres beklemtoon die belangrikheid van ‘n vreedsame oplossing om Mosambiek se ekonomiese groei en ‘n volhoubare toekoms te verseker:
Intussen het minstens twee-duisend Mosambiekse gesinne dié week na die buurland Malawi gevlug om weg te kom van die geweld. Die dodetal het volgens berigte sedert die hof se beslissing 125 bereik, en meer as 252 sedert die verkiesing. Die owerhede in Malawi sê die toestand bly benard omdat die vlugtelinge dringend humanitêre bystand nodig het.
# Navo beplan om sy teenwoordigheid in die Baltiese See te versterk om vermeende sabotasie van ‘n ondersese kragkabel en vier internetlyne te bekamp. Estland het vroeër ‘n Vlootoperasie geloods om ‘n elektrisiteitsverbinding te bewaak. Dit volg op Finland se beslaglegging op ‘n skip wat Russiese olie vervoer het, weens ‘n vermeende verband met ‘n onderbreking van die Estlink 2-ondersese kragkabel wat Estland met optiese vesellyne verbind. Reuters berig lande aan die Baltiese See is op hoë gereedheidsgrondslag vir dade van sabotasie na ‘n vlaag onverklaarde onderbrekings.
# En rugby: Die Stormers verwelkom die Haaie vandag in Kaapstad vir ‘n kus-derbie in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die ander twee Suid-Afrikaanse spanne, die Bulle en die Leeus, geniet die naweek ‘n Kersruskansie. Die Bulle is tans vierde op die punteleer na Leinster, die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, en Cardiff, gevolg deur die Haaie, en die Leeus in die sewende plek. Die Stormers, wat die kompetisie in die 2021/22-seisoen gewen het, bevind hulleself in die dertiende posisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….