Nuus 09:00
BULLETIN 24 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident wens Suid-Afrikaners ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar toe
# Dronkbestuurders verontagsaam aanhoudend die wet in Kaapstad
# En, ‘n 90-jarige met Parkinson-siekte skryf in vir ‘n gewigoptel-kompetisie
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrikaners ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar toegewens. Hy het die feestyd beskryf as ‘n spesiale tyd vir familie, vir nabetragting en vernuwing. Mashatile het in sy boodskap besin oor die uitdagings en die prestasies van 2024, ‘n jaar waarin 30 jaar van demokrasie herdenk is. Mashatile het inwoners aangemoedig om verantwoordelik te wees tydens die vakansie, met die klem op padveiligheid en die verantwoordelike gebruik van alkohol:
# Die Stad Kaapstad sê dronkbestuurders volhard met hul minagting van die Metro se wette. Die afgelope week is 41 verdagtes in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Sondag is twee verdagtes van onderskeidelik 25 en 26 met behulp van kringtelevisie-beeldmateriaal gearresteer vir die beweerde moord op ‘n 15-jarige seun op sy fiets in Lavender Hill:
# Die Departement van Basiese Onderwys het gereageer op die oortredingskennisgewing van die Inligtingsreguleerder en verseker hy het binne die verlangde tydsraamwerk van 30 dae gereageer. Die departement bevestig hy het ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting op 13 Desember appèl aangeteken en die Hooggeregshof het die aansoek op 17 Desember goedgekeur. Volgens die departement is dit die volgende dag op die Reguleerder beteken. Die departement beplan om dringend met die Staatsprokureur te beraadslaag en wil geskille tussen departemente liefs deur middel van dialoog as vyandige regsaksies besleg.
# Sokker: Virgil van Dijk sê geen spertyd bestaan vir sy kontrak met Liverpool nie. Die huidige kontrak van dié internasionale Nederlandse speler verstryk die einde van die seisoen, waarna hy van 1 Januarie met oorsese klubs sal kan onderhandel. Die 33-jarige wil volgens berigte egter by Anfield wil aanbly. Van Dijk is een van drie sleutelspelers wie se kontrakte nog net ses maande geld, met Trent Alexander-Arnold en Mohamed Salah die ander twee. Salah is ná Sondag se wedstryd teen Tottenham vierde op Liverpool se lys van die beste doelmakers in sy geskiedenis met 229 doele.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-381-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-620-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-66-sent per vat.
# En ter afsluiting: Drie geslagte familielede het ‘n 90-jarige vrou met Parkinson-siekte toegejuig terwyl sy deelgeneem het aan ‘n gewigoptel-kompetisie vir mense bo 70 in Taipei, Taiwan. Cheng Chen Chin-Mei het gewigte van 35-, 40- en 45-kilogram opgetel. Taiwan is op koers om ‘n super-ou gemeenskap te word, ‘n toekenning wat gegee word aan lande waar minstens 21-persent van die bevolking bo 65 jaar oud is. Taiwan wil teen volgende jaar landwyd 288 fiksheidsklubs vir ouer mense vestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….