Nuus 09:00
BULLETIN 19 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevraagteken die hantering van ‘n suurstoftender
# Die ANC-jeugliga sê die registrasie van spazawinkels was ’n nagmerrie
# En ministers van Suid-Afrika en Mosambiek belowe optrede om voedsel- en energie-onsekerheid te voorkom
# Die DA het kommer uitgespreek oor die verwikkeling rakende die beweerde onregmatighede met ‘n tender van meer as 800-miljoen-rand vir die installering van suurstof-aanlegte regoor Suid-Afrika. Twee van die maatskappye wat skynbaar betrek is, word nie deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte erken nie. Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur, Carol Phiri, sê die gerugte is ongegrond en geen bewyse bestaan daarvoor nie. Edwin Bath van die DA sê die Valke is besig om dit te ondersoek:
# Solidariteit sê geen regsroete bestaan vir die onmiddellike instelling van die Wet op Basiese Onderwyswette in sy geheel nie, omdat die nodige meganismes nie gereed is nie. Die grasietydperk vir politieke partye en rolspelers wat oplossings vir klousules 4 en 5 oor taalbeleid en toelatings wil voorlê, het verstryk. Solidariteit sê President Cyril Ramaphosa kan aankondig dat die Wet volledig in werking gestel word sodra norme, standaarde en beleid ontwikkel is. Hy sê dit is die enigste regsroete om die dispuut by te lê.
# Die ANC-Jeugliga in Gauteng sê hoewel die bedoeling met die registrasie van spazawinkels prysenswaardig is, was die uitvoering daarvan ‘n administratiewe ramp wat gekenmerk is deur korrupsie en ondoeltreffendhede. Die regering het die spertyd vir die registrasie van spazawinkels en ander voedselwinkels tot 28 Februarie uitgestel. Die jeugliga sê wat veral kommerwekkend is, is die gevalle waar Suid-Afrikaanse burgers spazawinkels namens ongedokumenteerde buitelanders registreer. Hy sê dit lê die skreiende ekonomiese ongelykhede en wetteloosheid bloot wat in dié sektor gedy.
# Ministers van Suid-Afrika en Mosambiek het onderneem om dringend op te tree teen voedsel- en energie-onsekerheid, weens ontwrigtings by die Lebombo-grens in Mpumalanga. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola en die Mosambiekse minister van Binnelandse Sake, Pascoal Ronda, het tydens ‘n gesamentlike vergadering die negatiewe uitwerking op handel en beweging van goedere erken. Ronda het deur middel van ‘n tolk gepraat en gesê die doel is om gladde handel te verseker en die ekonomieë van beide lande te beskerm:
# Motorsport: Die Formule Een-span, Red Bull, en Sergio Perez het ná vier jaar ooreenkom dat hulle paaie gaan skei. Die Mexikaan het vroeër vanjaar ‘n nuwe ooreenkoms onderteken wat tot einde 2026 van krag is. Die 34-jarige Perez het egter ʼn baie moeilike 2024-seisoen gehad en agste geëindig in die bestuurderskampioenskap, 285 punte agter sy spanmaat en wêreldkampioen, Max Verstappen. Die Red Bull-spanhoof, Christian Horner, het aan Sky Sports gesê dit was ʼn uitdagende jaar vir Perez:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-275-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-609-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….