Nuus 09:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 17 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê versoening sonder geregtigheid is ‘n bespotting
# Die Lebombo-grenspos is heropen
# En ‘n 15-jarige skiet ‘n onderwyser en ‘n student dood by ‘n privaat Christelike skool in Wisconsin
# Die EFF sê die land se sogenaamde versoeningsprojek is niks anders as voorgee nie. Suid-Afrika het gister Versoeningsdag herdenk. Die party sê die ANC het sy rewolusionêre plig laat vaar om die strukturele nalatenskap van apartheid af te breek en het dit verruil vir politieke mag wat deur wit alliansies in stand gehou word. Die EFF sê ook versoening sonder geregtigheid, die grondonteiening en die aftakeling van wit ekonomiese en politieke oorheersing, is ‘n bespotting.
# Die Grensbestuursowerheid sê bedrywighede by die Lebombo-grenspos verloop glad terwyl vakansieverkeer toeneem. Die grens het die afgelope weke ontwrigtings ondervind weens betogings ná die onlangse Mosambiekse verkiesing. Dit het tot uitermatig lang rye vragmotors aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens gelei, wat ‘n groot verkeersopeenhoping veroorsaak het. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê die prosessering van vrag aan beide kante is weer normaal:
# Twee dwelmmuile is die naweek by die OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek kort nadat hulle uit Brasilië aangekom en met kokaïne betrap is. Dit volg nadat owerhede by die lughawe onlangs begin toeslaan het op dwelmsmokkelary en meer as 15 mense die afgelope twee maande in hegtenis geneem is. Die polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê dis die tweede dwelmvonds in een week by die lughawe:
# ‘n Onderwyser en leerder is dood nadat ʼn 15-jarige leerder in ʼn studiesaal by die Abundant Life Christian School in Madison, Wisconsin, op mense losgebrand het. Ses is beseer waarvan twee se toestand bedenklik is. ʼn Handwapen is op die toneel gevind. Madison se polisiehoof, Shon Barnes, sê die skieter wat uitgeken is as Natalie Rupnow, ook bekend as Samantha, was ʼn leerder by die skool. Hy sê sy het haarself daarna doodgeskiet:
# Rugby: Springbok-stut Ox Nché het ʼn nuwe ooreenkoms met die Sharks onderteken wat tot Junie 2028 geldig is. Die 29-jarige speler wat in 2020 die Cheetahs verlaat en by die Sharks aangesluit het, het 60 keer vir die Durbanse span uitgedraf. Vroeër vanjaar is berig Nché gaan by die Franse Top 14 aansluit, maar hy het dit ten sterkste ontken. Die skrumskakel, Bradley Davids, en losvoorspeler Vincent Tshituka het ook kontrakte onderteken om tot Junie 2027 in Durban te bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-607-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….